'Bloedbad' toe Pretoria-inwoners plakkers pak
'Bloedbad' toe Pretoria-inwoners plakkers pak

'Bloedbad' toe Pretoria-inwoners plakkers pak

Tanja Bause
Johan Eybers en

Hendrik Hancke



'n Verstandelik gestremde man van Pretoria-Wes veg om sy lewe nadat hy saam met 'n groep inwoners probeer het om plakkers­hutte af te breek.

Mnr. Stephan Harris (28) het bloeding op die brein en sy ribbes is gebreek in 'n skermutseling Vrydagaand waarin hy en 'n groep van sowat 80 wit mans met die ver­skuifde inwoners betrokke was.

Hy is vermoedelik met 'n panga gekap. Nog agt mense is in die hospitaal behandel vir skietwonde en ander beserings. Harris en ander inwoners van Booysens wou die “plakkers” van 'n stuk grond naby hul huise verwyder.

Die Tshwane-metroraad moes inwoners van Atteridge­ville, oos van Pretoria, na Booysens ontruim nadat 'n sinkgat verskeie huise ingesluk het.

Die groep inwoners en die mense wat tydelik soontoe verskuif is, het sedert Vrydagmiddag slaags geraak.

“Ons het gedink Stefan was in sy kamer toe die groep mans na die nedersetting opgeruk het,” sê me. Dorris Bates, Harris se voog.

“Ons het van die pad af staan en kyk hoe die twee groepe baklei het. Dit was behoorlik 'n bloedbad,” sê sy.

Die groep inwoners het in 'n stadium uit die informele nedersetting onttrek toe hulle met klippe bestook is, sê sy.

“Hulle het geskreeu dat iemand steeds in die nedersetting agtergebly het. Ons het nie geweet dat dit Stefan is nie. Ons het eers besef dit is Stefan toe iemand by die Katlehong-hospitaal later die aand vir ons 'n foto van hom in sy hospitaalbed gestuur het,” sê ­Bates in trane.

“Ons was verskriklik geskok. Stefan het die emosionele intelligensie van 'n 12-jarige kind en hy is nie in staat om enigiemand seer te maak nie,” sê me. Manie Hough, 'n vriend van Harris.

“Ongelukkig is dit baie maklik om hom te oorreed om enigiets te doen en ons dink dit is waarom hy homself in 'n doodsgevaarlike situasie bevind het.”

Me. Elma Nel, 'n DA-wykraadslid in die omgewing, pak die skuld op individue in die metroraad wat haar nie ingelig het dat hulle mense tydelik weens 'n krisis na die gebied toe skuif nie.

Die DA is die meerderheidsparty in die Tshwane-metroraad.

“Die gemeenskap het min vertroue in die stadsraad omdat daar voorheen (deur die ANC-stadsraad) beloftes gemaak is dat mense net tydelik na 'n stuk grond geskuif sou word. Uiteindelik het dit in 'n plakkerskamp ontaard,” sê sy.

“Op die oog af lyk dit seker soos rassisme, maar eintlik is inwoners kwaad oor die sosio-ekonomiese probleme en swak beplanning deur die stadsraad wat op hulle afgedruk is,” sê sy.

Die groep mense wat na Booysens geskuif is, voel anders.

“Daar is duidelik vir ons gesê ons is nie welkom nie weens ons velkleur,” sê mnr. John Molewa (28).

Hy vertel meer as 40 mans het hulle Woensdag al geïntimideer toe hulle besig was om hul hutte op te rig.

“Hulle was baie aggressief en het gedreig om ons fisiek te verwyder as ons nie self trek nie.”

'n Groep mans het Donderdagaand probeer om hul plakkershutte af te breek, maar is deur die polisie gekeer.

Teen Vrydag was die gort gaar en die 80 wit mans het die hutte ingevaar.

Molewa sê die inwoners het hul huise aan die brand probeer steek met petrolbomme en hulle aangerand.

“Ons het versterkings ingeroep en hulle met klippe verjaag,” sê Molewa.

Nie hy of enige van die ander inwoners was bewus daarvan dat Harris om sy lewe in die hospitaal baklei nie.

“Ons het niks verkeerd gedoen nie, behalwe om onsself en ons eiendom te beskerm. Ons het nie hier kom plak nie, maar is deur die stadsraad hier geplaas. Hoe kan dit 'n probleem wees vir die inwoners, behalwe dat hulle ­gekant is teen swart mense wat hulle bure is,” sê mnr. Frederick Ngoepe (23).

Mnr. Danny Naudé (41), 'n nutsman wat al nege jaar in die omgewing woon, sê mense het mekaar Donderdagaand begin opsteek. “Daar was moeilikheidmakers aan albei kante,” sê Naudé.

Naudé het self probeer om van die mense te kalmeer.

“Ek het vir van die plakkers gesê die regering is net besig om van hulle ontslae te raak.

Hulle word hier gedump sonder toilette, krag of water,” sê Naudé.

Hy meen inwoners is ook ontevrede omdat van die plakkers glo eiendom by van die huise gesteel het.

Op sosiale media het inwoners foto's versprei van 'n beweerde plakker wat lyk asof hy 'n vullisdrom van 'n huis wegdra.

Die Tshwane-metro het in 'n verklaring gesê hulle moes die Atteridgeville-inwoners tydelik verskuif.

Aanvanklik was net vyf families se huise deur die sinkgat bedreig, maar teen Donderdag was daar reeds 45 gesinne wat in gevaar was.

Die gesinne is eers vir 'n nag in die Mlambo-saal in Atteridgeville gehuisves, maar daarna na Bremerstraat in Booysens geskuif. Teen druktyd het die Booysens-inwoners weer by 'n naburige park saamgedrom.

Swaar polisiebewaking is teen gisteraand nog gehandhaaf.

-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer