Bloed kruip waar water nie kan loop
Om weer ná jare se wonder en vrae met ‘n biologiese ouer herenig te word, is vir baie aangenome kinders hul grootste droom.
Henriette Lamprecht – Dis haar grootste vreugde en passie, sê die vrou wat vir jare reeds alles in haar vermoë doen om ‘n ma en haar aangenome kind die voorreg te kan gee om mekaar ná dikwels dekades se skeiding weer te kan vashou.
Leonie Erasmus van Kleinmond in die Wes-Kaap se soektogte loop ook draaie deur Namibië waar sy ook hier na ‘n ouer of ‘n kind soek wat deur gister se besluite geskei is.
Sy het vir jare by ‘n baie groot maatskappy gewerk waar sy intensiewe opleiding ontvang het om mense op te spoor en ook al dié sake vertroulik en sensitief te hanteer, vertel Leonie.
Reeds in 1989 het sy begin help om aangenome kinders met hul biologiese ouers te herenig.
“Ek het ‘n geweldige passie vir die werk wat ek doen. Daar is baie streng reëls, wette en prosedures wat in ag geneem en gevolg moet word.”
Die moeilikste deel van haar soektogte is wanneer ‘n aangenome persoon nie weet wat sy of haar naam voor die aanneming was nie. Nog ‘n stok in die wiel is wanneer die persoon nie weet wat die biologiese ouer se naam en van is nie.
“Dit is ook baie moeilik wanneer die biologiese ma nie die geboortedatum of –jaar kan onthou van die baba wat sy moes opgee nie.”
Dikwels is dit omdat dit ‘n geweldige traumatiese gebeurtenis in haar lewe was en die ma vir lank ná die aanneming sielkundige berading moes ontvang.
“Sy moes cope met die idee dat sy haar baba moes opgee omdat haar eie omstandighede van so 'n aard was dat sy nie die baba self kon grootmaak nie.”
Baie familielede soek ook na ‘n broer of suster se aangenome kind en beskik dan glad nie oor die nodige inligting nie.
Die wet maak ook geensins voorsiening vir enige ander persoon behalwe die biologiese ouer self om na ‘n aangenome kind te soek nie. Uitsonderings word wel gemaak wanneer die biologiese ma dalk reeds oorlede is en haar ander kinders hul aangenome broer of suster wil ontmoet.
“Ek het ses sake waar die aanneemouers nooit hul aangenome kind vertel het hy of sy is aangeneem nie. In twee van die sake is die aangenome kind die biologiese ma se enigste kind. Ek kan hulle nooit herenig nie, want die kind weet nie hy of sy is aangeneem nie.
Daar is baie lekkerstes in die beroep wat sy gekies het, sê Leonie.
Een hiervan was toe sy die wenner van die Suid-Afrikaanse Idols-kompetisie in 2005, Karin Kortje, onlangs met haar biologiese ma en familie herenig het.
“Dit was vir my baie lekker om vir haar biologiese ma te kon sê haar aangenome dogter is die een wat die temaliedjie van haar gunstelingsepie sing! Sy was verslae en kon dit nie glo nie; sy mis nie een episode nie.”
Karin se biologiese ma en dié se ander dogter het in 2005 die kompetisie gevolg en was nooit daarvan bewus sy is die dogter wat sy 40 jaar gelede vir aanneming moes opgee nie.
“Karin se biologiese suster het in 2015 ‘n vertoning van haar op Pofadder bygewoon. Sy het onlangs eers uitgevind Karin is die suster na wie hulle so lank gesoek het.”
Nog ‘n suksesverhaal is dié van Hazel Myburgh (62) wat in 2006 met haar suster in Australië en ook haar broers herenig is. Dit 64 jaar nadat hulle deur aanneming van mekaar geskei is. Hazel het sedert die ouderdom van 19 jaar na haar suster gesoek.
“Dit is nou 13 jaar later en nog steeds gaan kuier sy gereeld vir drie maande op ‘n slag by haar suster en swaer in Australië. Sy gaan binnekort vir die vyfde keer kuier. Haar sus en swaer bederf haar in die afgrond in wanneer sy daar is. Sy het die wonderlikste verhouding met hulle.
“Hazel woon op Kleinmond en vandat sy met haar suster en broers herenig is, is haar lewe ‘n sprokie. Sy is so gelukkig en kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike ding wat met haar gebeur het nie.”
Dié week was dit ook reeds tien jaar gelede wat Leonie vir Santie Eloff gehelp het om met haar biologiese ma te verenig. Santie erken sy was aanvanklik skepties oor of Leonie meer sukses gaan hê as sy wat sedert die ouderdom van 18 na haar ma gesoek het.
“Die 3de September 2009 was een van die wonderlikste dae in my lewe,” vertel Santie.
“Ek was bevoorreg om dit met my grootmaakpa te deel wat op sy beurt ‘n verjaarsdag met my biologiese ouma deel. Sedertdien vier ons elke jaar saam met my nuwe familie al twee se verjaarsdag.”
Volgens Santie het sy nou uiteindelik die geleentheid om haar biologiese ma die vrae te vra waaroor sy soveel jaar gewonder het.
“My ma het aan my vertel sy wou my nie opgee nie. Weens omstandighede was dit egter die grootste opoffering wat sy in haar lewe moes maak.”
Volgens Santie het haar ma haar nooit vergeet nie en het sy vir haar ‘n blikkie gegee waarin sy die 33 verjaarsdagkaartjies aan haar dogter gebêre het, een vir elke jaar wat hulle nie saam was nie.
“Sy het ook vertel sy het die jaar wat ek mondig geword het, aan ‘n wedloop deelgeneem waartydens sy een kilometer vir elke jaar van my lewe gehardloop het.”
Dié inligting het haar lewe verander, erken Santie. Sy het net gewéét sy was nie ‘n fout waarvan haar ma ontslae wou raak nie en dat sy al die jare wat hul geskei was, steeds in haar hart was.
“Dit het my soveel selfvertroue gegee. Ek was nie meer die ‘stukkende’ baba wat weggegooi is nie; ek was iemand wat saak maak.”
Sedert hul ontmoeting in 2009 het die verhouding tussen Santie en haar ma net hegter geraak en was sy ook by met die geboorte van Santie se tweede dogtertjie. Vandag kuier hulle oor en weer en is daar nie ‘n familiebyeenkoms waarvan sy nie deel is nie.
“Dit is asof ons nog altyd deel was van die familie.”
Sy erken sy is gelukkig dat die herontmoeting met haar ma ‘n positiewe nadraai het.
“Daar is mense wat nie so gelukkig is nie. Ek glo egter vas ‘n mens moet dit doen om afsluiting te kry. Omdat dit so ‘n emosionele kwessie is, raai ek mense aan om eers vir berading te gaan voor jy die soektog aanpak. Sorg ook dat jy ‘n goeie ondersteuningspan aan jou kant het as dinge nie verloop soos jy gehoop het nie.”
Leonie erken dit is baie moeilik om byvoorbeeld ná 60 jaar ‘n biologiese ouer op te spoor omdat die moontlikheid groot is dat sy reeds oorlede is. Tot 1987 was daar ook ‘n wet wat ma en kind wat ná aanneming van mekaar geskei is, verbied het om na mekaar te soek.
Volgens Leonie is die wet opgeskort en mag ‘n ma en kind mekaar soek mits die regte proses en kanale gevolg en ‘n professionele persoon gebruik word.
Mense bespiegel soms wie hul biologiese ma kan wees, maar daar is “net een plek” waar jy haar besonderhede kan kry, sê Leonie en dit is in die aannemingsdokumente. Ook hiermee is baie streng reëls en ‘n spesifieke prosedure wat gevolg moet word.
Die proses begin by die ontmoeting wat deur ‘n professionele persoon hanteer word om te verseker daar gaan geen probleme wees nie.
“Daar is soveel dinge wat in ag geneem moet word. Dit is nie ‘n proses van een of twee ure nie.”
As alles vlot verloop, neem dit nie te lank voordat ma en kind ná baie jare “met groot vreugde” herenig word nie.
“Albei kry ook die afsluiting na baie jare se wonder oor jou kind of ma.”
Leonie vertel baie mense wat aangeneem is of biologiese ouers wat jare gelede ‘n baba vir aanneming moes opgee omdat haar omstandighede van so aard was dat sy hom of haar nie self kon versorg nie, weet nie waar om te begin soek nie.
Om dié rede het sy Adopted Child begin, ‘n sentrale punt waar mense kan gaan kyk of hul biologiese ouer of aangenome kind hulle dalk soek.
“Baie aangenome persone weet nie waar om vir hulp aan te klop om hul biologiese ouer te soek nie. Hulle soek dan sommer op Facebook of op die internet.”
Volgens Leonie is daar ‘n wet vir die beskerming van persoonlike inligting in Suid-Afrika wat bepaal géén inligting van enige persoon mag op die internet of enige sosiale netwerk bekend gemaak word nie.
Dikwels is ‘n biologiese ma se man en kinders nie daarvan bewus dat sy jare gelede ‘n baba vir aanneming opgegee het nie.
“Wanneer ‘n ma op die verkeerde manier gesoek word, kan dit baie groot probleme in haar huwelik veroorsaak as ‘n aangenome persoon haar self kontak. Ook wanneer die persoon nie bewus is van die streng prosedure wat vereis word wanneer ‘n ma en haar kind weer herenig word nie.”
Sy verwys na ‘n onlangse geval waar sy twee susters ná 68 jaar met mekaar herenig het en die vreugde vir albei partye groot is.
“Dit is slegs wanneer al die betrokke partye die regte prosedure gevolg het, en die ouer en kind berading ontvang en op die regte manier emosioneel hiervoor voorberei is.”
Hoewel ma en kind biologies aan mekaar verbind is, is hulle steeds totale vreemdelinge vir mekaar, maan Leonie.
Die biologiese ouer se man en kinders, die aanneemouers en elkeen wat die aangenome kind by die proses betrokke wil hê, moet volgens haar voorberei word oor wat om te verwag wanneer ma en kind uiteindelik ná baie jare herenig word.
‘’n Biologiese ouer of aangenome kind mag nie direk met mekaar kontak maak nie. Baie streng reëls moet gevolg word om te verhoed dat mense seerkry en of dat huwelike in die proses skipbreuk ly.”
Soms het die biologiese ouer ‘n geskiedenis van depressie en moet sy eers dringend ondersteuning van ‘n berader kry wat haar voorberei vir wanneer sy die dag haar kind gaan ontmoet.
Leonie verwys ook mense na die regte aannemingskantore of die regte persone in ‘n geval waar ‘n ma na haar kind soek en sy moontlik nie die regte inligting het om haar met haar soektog te help nie.
Leonie was te sien in die Via-program Waar begin ek soek? op kykNET waartydens sy in twee reekse haar suksesverhale met Jan Publiek gedeel het. In dié gevalle het die betrokke partye ingestem om hul verhale te vertel.
Vir enige navrae oor Adopt Child kan Leonie by [email protected] of op (0027) 76 510 1814 gekontak word. Meer besonderhede kan ook op die webtuiste www.adoptedchild.co.za gevind word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie