Blink jaar wag op toerisme
Blink jaar wag op toerisme

Blink jaar wag op toerisme

Besoekers soek die roepstem van die vlaktes, die stilte en die vrede.
Des Erasmus
Des Erasmus - 'n Wonderlike jaar op die gebied van toerisme word deur ondersteunende dienste soos toermaatskappye vir Namibië voorspel.

Daar word nie net na 'n vierde opeenvolgende rekordjaar uitgesien nie, maar 2017 kan selfs beter wees as die vorige drie in 'n sektor van die ekonomie van Namibië wat deur merkwaardige groei gekenmerk word.

Terselfdertyd het die toerisme­patroon ook verander. Besoekers van oorsese lande kom nie net meer in sekere tydperke van die jaar na Namibië nie, maar rek nou hul kuier­tjies oor 'n breë tydperk tot selfs aan die einde van November wanneer die Namibiese mark 'n stroom besoekers van buurlande lok. Eers was dit net 'n stroom uit Suid-Afrika, maar nou het Botswana bygekom, ondersteun deur Namibië se ander landgebonde bure.

Republikein het op Swakopmund met verteenwoordigers en operateurs gesels wat kniediep in die bedryf staan. In die laaste week van Desember was hier reeds oorsese toeriste en van die eerste georganiseerde groeptoere word vandeesweek onderneem.

Me. Almuth Styles van Namib I, 'n toerdiens op Swakopmund, meen die veranderde patroon hou verband met die instelling van die lugrederye Qatar en KLM se regstreekse toere na die vasteland.

'n Vryskuttoeroperateur van Swakopmund, mnr. Bernhard von Seydlitz,­ meen Namibië se gewildheid hou verband met die stilte, vrede en uitgestrekte vlaktes in 'n wêreld waarin mensemenigtes in kleiner lande mekaar verdring. Hy tree juis vandeesweek as gids vir 'n toergroep van 34 boere van Switserland op. 'n Karakoelplaas verskyn onder meer op die reisplan.

Styles sê die toenemende getal besoekers uit die Nederlande, Italië en België is in die verlede nie later as September in Namibië opgemerk nie. “Nou loop hulle teen die einde van November nog hier rond.”

Von Seydlitz, 'n voormalige Namibiese diplomatieke verteenwoordiger in Europa en Botswana, sê hy is bewus van die skattings van 1,6 mijoen toeriste vir Namibië in 2017, hoewel dit nie 'n amptelike syfer is nie. Hy het ook verneem dat geriewe by sekere bestemmings reeds vol bespreek is. Hy verkies om as toerleier vir kleiner groepe op te tree, maar het voor druk geswig om nog vandeesweek as leier vir die groter groep op te tree. Hy konsentreer op toere na die omgewings van Windhoek, Omaruru en Swakopmund, maar het al groepe tot by die Victoria-waterval gelei.

'n Bewuswording was hoe die Suide toergroepe aangegryp het, gebiede soos die vlaktes suid van Maltahöhe. “Dit is die ruimte, die uitgestrektheid van die landskap en die stilte. Dink daaraan, 20 Switserlande kan op die grondgebied van Namibië ingepas word,” sê Von Seydlitz. “Die grondgebied van Namibië is groot genoeg om twee Duitslande in te pas, maar Duitsland het 'n bevolking van 85 miljoen mense teenoor die 2,3 tot 2,4 miljoen van Namibië. Toerisme is ook die een bedryf wat nie so regstreeks deur finansiële omstandighede en die heersende droogte aangetas word nie.”

Von Seydlitz noem 'n paar moontlike knelpunte. “Die ganse Namibië is vasgevang in 'n waterskaarste. 'n Tweede knelpunt is die toestand van Namibië se grondpaaie.”

Volgens hom is daar ook 'n taalprobleem. Nie baie toergidse is Italiaans, Frans of Vlaams magtig nie. Op die gebied van toergidse wat Duits magtig is, is hy bewus van beweringe van 'n tekort aan 50 gidse wat Duits magtig is. Daarvoor vergoed die landsvrede teenoor toestande soos in Sirië, Egipte en selfs van die ander lande in Afrika.

Namibië se wildlewe is 'n geweldige­ bate en vir besoekers is 'n kennis­making met die Koi-groepe 'n belewenis. Wat die natuur betref, is Naukluft 'n gebied wat toergroepe aangegryp het. Vir Europeërs is die afstande van reise in Namibië ook 'n belewenis. Von Seydlitz sê toerleiers het 'n geweldige rol in die bedryf. “'n Gids is die venster waardeur besoekers na 'n land kyk.”

Vir hom is dit opvallend dat toeriste hul toere haarfyn beplan. Hy ervaar dikwels dat toeriste spyt is dat hulle nie 'n nag of twee langer in sekere herberge of by sekere oorde kan bly nie, maar hulle word deur hul reisplan vasgepen.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer