Blasers reis na Kenia

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Bykans drie weke weg van die huis af lê voor vir twee Namibiese rugbyskeidsregters wat die taak aanvaar het om as skeidsregters en grensregters by twee komende toernooie in Kenia op te tree.

Nicardo Pienaar van Otjiwarongo en Zaid Isaacs van Windhoek is die twee Namibiese wedstrydbeamptes wat vandag na Oos-Afrika vertrek, nadat beide reeds tevore op kontinentale vlak blootgestel is.

Hul eerste afspraak is Rugby Afrika se Barthés onder 20-toernooi in Nairobi, waar die gasheerland as huidige titelhouer teen Madagaskar en Senegal opgeweeg word.

Die Namibiese o.20-span moes die afgelope naweek oplaas van sy deelname onttrek, vanweë positiewe Covid-19-uitslae onder die spelersgroep wat ’n stokkie voor die beplande reis gesteek het. Die toernooi gaan dus met drie spanne voort.

Kort op die hakke hiervan volg die driehoekige senior manstoernooi in Nairobi tussen Kenia, Zambië en Senegal, wat op 3, 7 en 11 Julie gespeel word.

Pienaar se eerste blootstelling op Rugby Afrika-vlak was reeds in 2017. “Ek was sover by drie sewestoernooie en by omtrent 25 internasionale wedstryde betrokke, waarvan my grootste wedstryd wat ek hanteer het Zimbabwe se tuistoets teen Uganda in die 2019 Victoria Cup was.

“Deesdae weet mens nie altyd wat om te verwag met toernooie nie met verwysing na al die Covid-protokol, maar ek sien die komende twee toernooie as ’n positiewe uitdaging.

“Om ’n rugbyskeidsregter te word, het sy positiewe en negatiewe kante. As jy dit teen mekaar opweeg en bereid is om hard te werk, dink ek die positiewe is meer oorheersend, veral as jy kyk na al die geleenthede wat moontlik is.

“Die Namibiese Rugbyskeidsregtersvereniging (William Steenkamp en Oscar Lambert) doen baie moeite om ontwikkeling te doen en met Rugby Afrika se aanlyn slypskole vir ons wat op die skeidsregterspaneel is, dink ek die skeidsregters in Namibië is op die regte pad.

“As skeidsregters bly jy steeds deel van rugby sonder om te speel. En jy besef dan dat daar soveel meer aan rugby is as net die wedstryd tussen die vier wit lyne.”

Zaid Isaacs sê sy eerste Rugby Afrika-toernooi was ook in 2017.

“Ek het nog net een internasionale o.20-wedstryd geblaas en was een keer ’n grensregter. Ek hoop om in die komende toernooi my debuut in ’n senior toetswedstryd te maak, as skeidsregter of grensregter.

“Hierdie toernooi sal nie net vir my en Nicardo deure oopmaak nie, maar ook vir die ander jong manne en vroue wat later hul buiging vir Rugby Afrika sal maak, want ek wil graag die pad vir ander Namibiese blasers oopmaak.

“My boodskap aan die ander skeidsregters is moenie ophou werk nie; doen julle deel vir rugby en glo in jouself.”

Kommentaar

Republikein 2025-09-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer