Blasers kry opleiding
Blasers kry opleiding

Blasers kry opleiding

Sokker
Die Namibiese Sokkervereniging (NSV) is tans op soek na nuwe talentvolle skeidsregters en gaan vanaf vandag ’n twee week lange kursus vir beginners by Sokkerhuis in Katutura aanbied.

Absalom Goseb, skeidsregterskoördineerder van die NSV, sê sy departement het die plan gekry om die 14 dae opsy te sit om aspirerende blasers se belangstelling te prikkel en ’n kursus aan te bied.

“Ons soek nuwe bloed en ek doen ’n beroep op alle belangstellendes om my te kontak. Hulle sal die basiese beginsels van skeidsregters geleer word en dan sal hul nuutgevonde kennis getoets word. Hulle sal natuurlik voortdurend met die regte kennis toegerus word om die fluitjie suksesvol te hanteer. Dit sal natuurlik nie net plaaslik wees nie, maar ook buite die landsgrense,” het Goseb gesê.

Hy het ook belangstellende vroue aangemoedig om dié mantel op te neem, want vroue word al hoe meer as beamptes by wedstryde ingespan. Die vroue kan Goseb by 081 328 5047 kontak.

Jackson Pavaza, wat by die 2016 MTC Namibië Namibiese sporttoekennings as die land se beste skeidsregter vereer is, gaan binnekort ’n span wedstrydbeamptes na die Demokratiese Republiek van Kongo vergesel. Pavaza en drie van sy landgenote sal op 14 Mei by TP Mazembe-stadion in Lubumbashi optree wanneer die spanne van TP Mazembe en Mounana van Gaboen mekaar in ’n groep D-wedstryd van die CAF Konfederasiebeker pak. Pavaza word deur Dawid Shaanika, Matthew Kanyanga en Dankie Shilunga vergesel.

Erastus Shilunga, nasionale wedstrydkommissaris, sal terselfdertyd in Suid-Afrika wees waar hy in ’n groep B-wedstryd tussen Platinum Stars en Moulidia Club D’Agier van Algerië by die Royal Bafokeng-stadion, Rustenburg, gaan optree.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer