Bitcoin word 10: Só het die prys verander

Deesdae sal een bitcoin jou sowat R96 000 uit die sak jaag.
Petrus Malherbe – Die wêreld se eerste kennisname met bitcoin, die gewilde en dikwels omstrede digitale geldeenheid, was presies tien jaar gelede.

Op 31 Oktober 2008 het Satoshi Nakamoto, die skuilnaam van die toe nog onbekende skepper (of skeppers) van bitcoin, dit bekend gestel in die artikel “Bitcoin: A Peer-to-Peer Electronic Cash System”.

Die eerste bitcoin-blokketting is op 3 Januarie 2009 begin waarop sogenaamde “myners” kon begin om digitale bitcoin-munte te genereer deur transaksies te verifieer.

As die skepper van die eerste blokketting het Nakamoto homself met 50 bitcoins beloon. Versteek in die transaksie was die boodskap: “The Times 03-Jan-2009 Chancellor on brink of second bailout for banks”.

Dié teks verwys na ’n hoofopskrif in die Britse dagblad The Times op dié dag en word enersyds beskou as ’n aanduiding van bitcoin se koms, en andersyds as kommentaar op die wêreldwye finansiële ineenstorting wat omstreeks dieselfde tyd plaasgevind het en waarvoor banke grootliks die skuld gekry het.

In daardie stadium was bitcoin as geldeenheid niks werd nie. Nege jaar later, in Desember 2017, het een bitcoin vir byna R265 000 op die plaaslike verhandelingsplatform Luno verhandel.

Deesdae sal een bitcoin jou sowat R96 000 uit die sak jaag.

Daar word bespiegel dat Nakamoto meer as 1 miljoen bitcoins besit. Dié geheimsinnige figuur het reeds jare gelede heeltemal verdwyn en is geensins meer betrokke by bitcoin of die bitcoin-blokketting nie.

Aan die begin het spekulante grootliks self die waarde van bitcoin met mekaar onderhandel.

Vroeg in die bestaan van die digitale geldeenheid het Gavin Andresen, ’n Amerikaanse programmeerder, 10 000 bitcoin vir $50 gekoop. Hy het die webwerf Bitcoin Faucet geskep en die digitale munte gratis uitgedeel aan ’n ieder en ’n elk wat dit wou hê.

Kort daarna het die eerste transaksie plaasgevind waarvolgens iemand vir iets tasbaars met bitcoin betaal het.

Laszlo Hanyecz, nog ’n Amerikaanse programmeerder, het met 10 000 bitcoins vir twee pizzas betaal. Teen vandag se bitcoin-waarde het dié wegneemete R9,6 miljard gekos . . .

Bitcoin het eers werklik in 2013 begin spoed optel toe die prys daarvan skielik van $13 in Desember 2012 tot meer as $1 200 teen November 2013 gespring het. Dit het die media se aandag getrek en verskeie meningstukke is oor die spekulatiewe aard daarvan geplaas.

Kort voor lank het die waarde daarvan weer gehalveer. Bitcoin sou eers weer in 2017 bo $1 000 gaan draai. In die drie voorafgaande jare het die prys grootliks gewissel tussen $400 tot $650.

In 2014 het die wêreld se grootste bitcoin-verhandelingsplatform, Mt. Gox, om sakeredding aansoek gedoen nadat kuberkrakers sowat 850 000 bitcoins gesteel het, wat in daardie stadium sowat $450 miljoen werd was.

Die diefstal het die kwesbaarheid van die digitale geldeenheid die eerste keer onder die aandag van beleggers gebring.

Dit was egter nie die einde van die kriptogeldeenheid nie en in 2017 het die waarde daarvan binne enkele maande van $1 000 tot byna $20 000 toegeneem.

Dié reusesprong is grootliks aangehelp deur ’n beplande “vurk”, wat die bitcoin-blokketting verdeel het in bitcoin en bitcoin cash (’n nuwe kriptogeldeenheid afsonderlik van bitcoin).

Dié stap was bedoel om die bitcoin-stelsel te “verbeter” deur die druk te verlig wat deur al die transaksies veroorsaak word, en ook om bitcoin se veiligheid te verbeter.

Teen 15 Desember 2017 het bitcoin sy hoogste vlak tot nog toe bereik toe dit teen $17 900, oftewel byna R265 000 per munt, verhandel het.

Dié reusebedrag het die oë van reguleerders laat rek en beleggers het al hoe bekommerder geraak dat bitcoin, nes gewone geld, gou deur reëls en regulasies onderskryf sou word.

Teen die einde van Januarie 2018 het bitcoin egter weer meer as die helfte van sy waarde verloor.

Die res van die jaar het dit tussen $6 000 en $7 000 per munt rondgedobber met blywende vrese oor moontlike regulering.

Kuberkrakers het ook reeds miljoene in bitcoin gebuit, ten spyte daarvan dat veiligheid voorgehou word as inherent aan digitale geldeenhede en die blokketting.

Bitcoin het ook aanleiding gegee tot die ontstaan van verskeie ander digitale geldeenhede, waaronder ethereum en litecoin. Maar geeneen het soortgelyke groei in waarde ervaar as bitcoin nie.

Net 21 miljoen bitcoins kan ooit gemyn word vanweë beperkings wat Nakamoto in die stelsel ingebou het.

Teen Februarie vanjaar was meer as 16,8 miljoen bitcoins reeds in omgang teen ’n totale markwaarde van byna $111 miljard.

Bronne: CoinDesk, Wikipedia, BusinessInsider, Wired, CoinMarketCap – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer