Bitcoin vlieg tot byna US$10 000
Bitcoin vlieg tot byna US$10 000

Bitcoin vlieg tot byna US$10 000

Bitcoin het US$9 000 verbygesteek. Die prys van die kripto­geldeenheid lyk glad nie of dit gaan ophou styg nie en is volgens ontleders vinnig op pad na vyf syfers.

Die prys van die grootste kripto­geldeenheid volgens ­markwaarde vlieg hoog soos wat al hoe meer mense daarvan kennis neem.

Bitcoin het die afgelope twee weke met meer as 40% gestyg.

Dis 'n geval van Fomo (fear of losing out) sê die ontleders van IG Group. “Daar is ander wat die risiko van 'n daling sien uit die bekendstelling van termyn­kontrakte in bitcoin.”

Dis veral gewone mense wat hul swaarverdiende geld in bitcoin begin belê. Die aantal ­rekeninge by Coinbase het die afgelope jaar byna verdriedubbel tot 13 miljoen.

Bitcoin het Maandagoggend selfs US$9 720,95 gehaal, sowat 16% hoër as laat Vrydagmiddag.

Die vinnige stygings maak dit vir voorspellers moeilik om voor te bly. Die verskansingsfonds­bestuurder Mike Novogratz, wat onlangs 'n fonds van US$500 miljoen vir beleggings in kriptogeld aangekondig het, het net 'n week gelede voorspel bitcoin sal teen einde 2017 op US$10 000 verhandel.

Net 'n dag later het Thomas Lee, navorsingshoof van Fundstrat, sy prysteiken tot US$11 500 teen middel 2018 opgestoot.

CME Group het planne vir termynkontrakte in bitcoin ­aangekondig, wat reeds in ­Desember kan begin verhandel. JPMorgan Chase & Co., Amerika se grootste bank, oorweeg dit ook om termynkontrakte in bitcoin deel van die keuse vir kliënte te maak.

Die internasionale bate­bestuursafdeling van Old Mutual het verlede week aangekondig een van sy fondse vir edel­metale gaan 5% van sy geld in bitcoin belê.

Die totale mark vir kriptogeld beloop nou meer as US$300 miljard, volgens Coinmarketcap.com.– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer