Bitcoin is blokketting in sy babaskoene!
Bitcoin is blokketting in sy babaskoene!

Bitcoin is blokketting in sy babaskoene!

Elke blokketting maak gebruik van sogenaamde myners wat die transaksies daarop verifieer.
Petrus Malherbe

Tot Desember verlede jaar het byna elke tweede mens wat jy ontmoet, ’n storie te vertelle gehad oor hul sukses as bitcoin-beleggers. Sedertdien is die geruis ’n bietjie stiller, grootliks omdat bitcoin se prys meer as gehalveer het sedert Desember se hoogtepunte.

“Dié tegnologie het dit moontlik gemaak om kontant te hê wat digitaal bestaan, werk soos fisieke geld, maar nie fisiek is nie,” verduidelik G-J van Rooyen, uitvoerende hoof van Custos Media Technologies, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat blokkettingtegnologie in die beskerming van films gebruik.

“Die geld ‘woon’ op ’n wêreldwye databasis wat self tred hou van wie wat besit. Dit was die eerste toepassing van blokkettingtegnologie, maar nou is daar vele ander gebruike.”

Van Rooyen verduidelik dat basies enigiets teoreties op die blokketting gestoor kan word aangesien dit eintlik net ’n groot databasis is, maar een waartoe almal toegang het.

Daar is geen sentrale rekenaar waarop die databasis woon nie; dit behoort aan die wêreld en is beskerm teen veranderings.

BEVESTIGING

Elke blokketting maak gebruik van sogenaamde myners wat die transaksies daarop verifieer. Hetsy geld of inligting uitgeruil word, moet dit eers deur hierdie myners bevestig word voordat dit by die blokketting gevoeg word.

“Deur al die transaksies in die ketting te pak en die werk te doen om seker te maak dis geldig, kan ons vertrou dat almal volgens die reëls opgetree het,” sê Van Rooyen.

Aangesien dit heelwat elektrisiteit en verwerkingskrag van ’n rekenaar verg om transaksies te verifieer, is dit onmoontlik vir een of twee booswigte om bestaande transaksies te verander.

Juis daarom het die blokketting die potensiaal om die beslommernis van verskeie alledaagse transaksies uit die weg te ruim.

“As jy dink aan al die dele van ons ekonomie waar reëls toegepas moet word – daar moet mense wees wat seker maak dit word wel toegepas. Slimkontrakte maak dit moontlik om hierdie reëls elektronies vas te vang sonder die noodsaaklikheid van die middelman.”

Die eiendomsmark kan byvoorbeeld op sy kop gekeer word deur bestaande transportaktes eerder digitaal op die blokketting te verteenwoordig. Tans moet dit deur ’n omslagtige menslike proses gaan in die oordrag van een persoon na ’n ander.

“Dit is moontlik om ’n munt te skep wat ’n huis by ’n spesifieke adres voorstel en só ’n rekord van die huidige eienaar te hou,” verduidelik Van Rooyen. Sodra die eienaar sy huis verkoop, word die munt oorgedra aan die nuwe eienaar en die rekord word derhalwe op die blokketting aangepas.

MUSIEKBEDRYF

Die musiekbedryf kan ook voordeel trek uit blokkettingtegnologie. Nóg ’n Suid-Afrikaner, Simon de la Rouviere, het ’n digitale betaalstelsel vir kunstenaars ontwikkel wat wegdoen met enige tussengangers.

“Elke keer dat ’n liedjie gekoop word, gaan die geld nie na enige tussenganger nie, maar regstreeks na die ou wat die tromme gespeel het, of die een wat die musiek geskryf het of die agent,” verduidelik Fred Lutz, Custos se bedryfshoof.

“De la Rouviere het effektief ’n hele bedryf van tussengangers soos platemaatskappye met ’n paar lyntjies kode vervang.”

Lutz meen egter dit gaan nog ’n tydjie neem voordat mense blokkettingtegnologie ten volle sal vertrou.

“Mense wantrou wat hulle nie regtig verstaan nie,” meen hy. “Daarom gaan mense wat dit die eerste keer gebruik, waarskynlik nie eens besef hulle gebruik dit nie.”

Custos se eie produk is ’n goeie voorbeeld. Die maatskappy verskaf tegnologie aan die rolprentbedryf om roofkykers te bekamp.

’n Klein hoeveelheid digitale kontant word in ’n fliek versteek wat aan resensente of ander rolspelers in die bedryf gestuur word. As daardie kopie van die fliek lek, kan Custos aan sy kliënte sê wie verantwoordelik was.

’n Rekord van die eienaarskap van elke fliek word op die blokketting gestoor.

“Ons bied ’n diens aan rolprentvervaardigers; hulle hoef nie te verstaan hoe die onderliggende tegnologie werk om hul flieks te beskerm nie, solank dit net doeltreffend is.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer