Bitcoin: belegging of kat in die sak?

Die ophef oor bitcoin het gelei tot hewige argumente oor die werklike waarde van die wêreld se grootste kriptovaluta.
Mike van der Westhuizen en Nishlen Govender - Tot onlangs het bitcoin meestal die aandag getrek van kuberkoppe en die misdaad-skaduwêreld, maar die 350%-prysstyging daarvan sedert die begin van die jaar het nou die hoofstroom laat kennis neem.

Maar, soos hulle op Wall Street sê: “As selfs die skoenpoetser aandelewenke begin uitdeel, is dit tyd om te verkoop.”

Is dié gesegde ook waar vir bitcoin?

Bitcoin se groot aantrekkingskrag is dat dit onafhanklik van enige reserwebank funksioneer en dit word dus gesien as die inleiding tot 'n nuwe era van valuta en betaalmetodes.

Ongeveer die helfte van die wêreldtotaal van sowat $100 miljard se kriptovaluta is tans bitcoin. Hoewel dit nou eers wêreldnuus haal, is dié valuta reeds sedert 2009 in omgang.

Die skerp prysstyging van bitcoin word grootliks toegeskryf aan:

• Die feit dat Japan dit as 'n amptelike betaalwyse aanvaar het. Hierby kan ook moontlik getel word die feit dat Indië en Venezuela hoëwaarde-bankknote geskrap het, asook die deurlopende devaluasie van die Chinese yuan.

• Die potensiaal daarvan om 'n buffer teen onsekerheid in wêreldmarkte te wees.

• 'n Betreklik gladde moontlike oorgang na twee verskillende valutas, naamlik bitcoin en bitcoin cash, en die potensiaal dat een van die twee werklike waarde sal hê.

Ons meen die algoritme wat bitcoin moontlik maak, die blokketting, is verreweg 'n kragtiger platform as bitcoin self.

Op Quora.com beskryf 'n kenner van finansiële tegnologie dit só: “Blokketting-tegnologie skep 'n gedesentraliseerde digitale openbare opgawe van transaksies wat veilig, anoniem, peuterbestand en onveranderlik is. In stede daarvan dat 'n bank of ander tussenganger 'n private databasis van opgawes hou, maak blokketting-tegnologie alle opgawes openbaar.”

Die uitwissing van tussengangers is die grootste voordeel van 'n blokketting. Dit verseker dat blokketting-gebruikers in beheer van hul inligting en transaksies bly, data-integriteit behou word en – minstens teoreties – die tydsduur en koste van transaksies ingeperk word.

Blokketting-tegnologie kan in die praktyk gebruik word vir betalings (die bekendeste gebruik); verskaffingsketting-bestuur (deur byvoorbeeld die kos te kan monitor van die plaas of see tot waar die verbruiker dit koop); slimkontrakte (waaronder grondregistrasie); digitale berging; aanlyn stemmings; handelsooreenkomste; en die betaling van maat­skaplike toelae.

Hoewel die prys moontlik kan aanhou styg, lê die grootste risiko daarin dat jy eendag wakker gaan word met die besef dat bitcoin toe nie die uitverkorene was nie.

Omdat dit 'n betreklike nuwe tegnologie is, het blokkettings steeds heelwat potensiaal en talle groot maatskappye ondersoek tans die moontlike gebruike daarvan.



Waarde van bitcoin

Maar hoe moet bitcoin se waarde bepaal word?

Dis belangrik om eers te bepaal of dit 'n bateklas is en, indien wel, wat die toepaslike waardasiekriteria sal wees. Daar is egter geen onderliggende beginsels in plek waarvolgens ons bitcoin kan “prys” of die waarde daarvan bepaal nie, wat dinge baie moeilik maak.

As ons besluit bitcoin is 'n geldeenheid, sou ons verskeie modelle hê om die waarde te bepaal, soos vergelykbare koopkrag, inflasiekoersverskille of rentekoersverskille.

Maar omdat daar geen reserwebanke, land van herkoms of inderdaad enige samebindende ekonomiese grondslae by bitcoin betrokke is nie, is dié tradisionele waardes onmoont­lik om te bepaal.

As ons bitcoin as 'n basiese sekuriteit (soos 'n aandeelprys) benader, is daar ook geen grondslagbeginsels waarvolgens ons dit kan evalueer nie, dus kan ons nie 'n toepaslike waar­dasiemodel skep nie.

Desondanks is daar geen twyfel dat bitcoin geweldig goed gevaar het nie. Dit word baie duidelik as 'n mens kyk na hoe kriptovaluta die laaste maande gevaar het.

Hoewel ons nie die waarde kan bepaal volgens tradisionele maatstawwe nie, kan ons steeds 'n verhandelbare bate evalueer volgens die vraag en aanbod daarvan.

As dit by bitcoin kom, is daar twee soorte gebruikers: diegene wat dit gebruik vir koop en verkoop, en diegene wat daarin spekuleer.

Uit anekdotiese bewyse lei ons af dat bitcoin steeds nie wyd as wettige betaalmiddel gebruik word nie – min handelaars aanvaar dit en daar is ook heelwat derdeparty-voorsieners wat as skakels tussen verbruikers en handelaars dien. Boonop is die waarde van bitcoin geweldig wisselvallig en dit is dus 'n onwaarskynlike langtermyn-beleggingshawe.

'n Reuse-hoeveelheid van die handel wat daarmee gedryf word, hou waar­skynlik verband met onverklaarde, onwettige aktiwiteite, maar sonder verdere inligting is dit onmoontlik om die vraag-en-aanbod-dinamika van daardie gebruikers te bepaal.

Ons glo kriptovaluta sal in die toekoms toenemend gebruik word, maar tans is dit net betrokke by 0,12% van handel wêreldwyd.



Nie algemeen aanvaar

As ons slegs vraag en aanbod kan gebruik om bitcoin te waardeer, en as diegene wat bitcoin in die praktyk as wettige betaalmiddel gebruik net 'n klein porsie van die vraag is, word dit duidelik dat 'n groot deel van die huidige vraag na bitcoin bloot spekulatief is.

Sonder 'n lewensvatbare manier om te bepaal teen watter prys bitcoin – of enige kriptovaluta – behoort te verhandel indien gegrond op tradisionele waardasie-kriteria, sal enige skerp daling in aanvraag lei tot reusagtige verliese soortgelyk aan dié wat in vorige borrels gesien is. Dit is waar selfs gegewe bitcoin se betreklik kort bestaan.

Vergelyk dit met die aandeelprys van BlackBerry.

Van 2006 tot middel 2008, toe die handelsmerk op sy sterkste was, het die waarde daarvan in minder as drie jaar met 525% toegeneem.

Sedert daardie hoogtepunt het die aandele 92% van hul waarde verloor tot waar dit vandag is.

Ons glo dat die ophef en prystoename van sekere kriptovaluta nie gerugsteun word deur die onderliggende kenmerke wat ons vereis van 'n goeie belegging nie. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer