• Tuisblad
  • Sake
  • Bill Venter lê finaal die tuig neer – op 84
Bill Venter lu00ea finaal die tuig neer u2013 op 84
Bill Venter lu00ea finaal die tuig neer u2013 op 84

Bill Venter lê finaal die tuig neer – op 84

Die stigter van Altron se bedanking as direkteur is onmiddellik van krag, het die maatskappy Dinsdag in 'n verklaring gesê.
Hanlie Stadler



Bill Venter, stigter van die elektronika­maatskappy Altron, het op 84 jaar oud finaal die tuig neergelê.

Venter se bedanking as direkteur van die maat­skappy wat hy in 1965 as Allied Electric gestig het, is deel van 'n proses wat reeds in 2016 begin is om Altron te omskep van 'n familiebeheerde onderneming in 'n maatskappy met 'n onafhanklike bestuur en direksie en breër aandeelhouding.

Die kleurryke miljoenêrsakeman het op 29 Julie 84 jaar oud geword.

Hy is ewe bekend om sy persoonlike lewe as die maatskappy wat hy opgebou het. Veral die verbrokkeling van sy tweede huwelik, met Edith, en die skikking van R12 miljoen – 'n fortuin toe dit in die 1994-egskeiding aan haar toegestaan is – het nuusopskrifte gehaal.

Venter se bedanking as direkteur is onmiddellik van krag, het die maat­skappy Dinsdag in 'n Sens-verklaring gesê.

Die direksie het hom “opreg bedank” vir die “belangrike en sentrale rol wat hy in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse elektronikabedryf en die ­Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel gespeel het”.

“Die direksie spreek sy uiterste dankbaarheid aan dr. Venter uit vir sy entrepreneuriese vaardigheid, leierskap en beduidende bydrae tot Altron oor die jare heen.”

Venter het in 2017 as voorsitter van Altron uitgetree, maar het nog 'n jaar op die direksie as nie-uitvoerende ­“emeritus-voorsitter” aangebly. Hy bly volgens die Sens-verklaring 'n “beduidende aandeelhouer”.

Mike Leeming is van 1 Maart 2017 in Venter se plek as voorsitter ­aangewys. Mteto Nyati het op 1 April 2017 by Venter se oudste seun, Robbie, as uitvoerende hoof oorgeneem. Robbie Venter is steeds 'n nie-uitvoerende direkteur op Altron se direksie.

Bill Venter het vyf kinders – twee seuns, Robbie en Craig, en 'n dogter, Leanne Schreuder, by sy eerste vrou, Jean Poole, en twee seuns by Edith Carstens (sy is in 2005 vir die derde keer getroud, dié keer met Garth Carstens), Blane en Marc. Craig was ook voorheen uitvoerende hoof van Altron.

Altron spesialiseer in finansiële en mediese tegnologie en veiligheid en sekerheid. Filiale sluit die vlootbestuur- en ­opspoorstelsel Altech Netstar in. Hy het die selfoonmaatskappy Altech Autopage reeds in 2015 verkoop.

Altron doen sake in agt lande – onder meer ook Brittanje en Australië – en het 8 000 personeellede wêreldwyd.

Altron, wat in 2017 op ebitda-vlak (verdienste voor rente, belasting, waardeverminderings en afskrywings) 'n verlies gely het en oorlaai was met skuld, het in die boekjaar tot Februarie 2018 'n stewige ebitda-wins gemaak danksy die herstrukturering van die onderneming. Die transformator-onderneming Powertech en ander ondernemings is verkoop.



In syfers

Vir die boekjaar tot einde Februarie 2018 het Altron as volg presteer vergeleke met die boekjaar tot einde Februarie 2017. Die syfers sluit ondernemings wat in die boekjaar verkoop is, uit:

• Inkomste styg met 14% tot R14,7 miljard.

• Ebitda styg met 19% tot R1,1 miljard.

• Nabelaste verlies verminder tot R253 miljoen, vergeleke met R717 miljoen.

• Genormaliseerde wesensverdienste styg met 31% tot R500 miljoen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer