Bu00e1ie om te vier op Onafhanklikheidsdag
Bu00e1ie om te vier op Onafhanklikheidsdag

Báie om te vier op Onafhanklikheidsdag

Augetto Graig
Augetto Graig - Daar word deesdae baie gepraat oor die viering van Namibië se 30 jaar van onafhanklikheid.

Party mense voel daar is niks om te vier nie. Ek stem glad nie saam nie.

Daar is baie om te vier. Daar is ook net so baie om te betreur. Daar’s nog baie wat kan en moet verbeter. Ons moet dit identifiseer, daagliks daaroor kla en die aandag daarop vestig.

Een dag is opsygesit om die goeie te vier – 21 Maart – die dag toe Namibië uiteindelik en ná ’n lang, bloedige stryd, onafhanklik geraak het.

Vir my is die ware kwessie nie of ons dit moet vier of nie, maar liewer hoe ons dit moet vier.

Ek glo nie in ons nasionale praktyk van hooggeplaastes nooi om in die skadu te kom sit en te vertel hoe goed hulle is, terwyl die res van ons in die son bak en wag om die hongerte met ou broodjies te verlig nie.

Dit maak vir my geen sin nie.

Waar sien mens daardie verbeterde lewe wat onafhanklikheid gebring het? Waar bewys politici in hul toesprake hoe dankbaar ons Namibiërs vir ons land is, of hoe lief ons mekaar het? Nêrens.

Trouens, baie van die toesprake, waarvan ek self al talle bygewoon het, is dikwels ’n valse uitbeelding van volmaakte helde wat nooit werklik bestaan het nie.

Aan dié helde is ons almal soveel verskuldig dat ons nie mag vra hoekom sekere individue voorkeur geniet of spesiale behandeling ontvang nie.

Ons moet ons lot aanvaar en rustig wag, want dit is steeds ander se beurt om te eet.

Ons moet betaal vir die mislukkings en tekortkominge van die regering, omdat die heersende party ons vryheid en verlossing van apartheid manalleen bewerkstellig het.

Ons word daaraan herinner hoeveel ons aan leiers verskuldig is. Vrede en stabiliteit is hul geskenk aan Namibië, waarvoor ons burgers nooit genoeg kan vergoed nie.

Desondanks is Namibië se onafhanklikheid betekenisvol en die moeite werd om te vier.

Daarom wil ek almal aanraai om dit reg te vier.

Moet asseblief nie op die regering vertrou om hierdie feesvieringe vir jou lekker te maak nie. Dit sal jou niks in die sak bring nie.

Besluit liewer self watter aspekte van onafhanklikheid jy wil vier. As dit die vryheid om met ander rasse te kuier is, nooi jou vriende van verskillende herkoms om saam met jou te makietie.

As dit vryheid van beweging is, gaan besoek ’n deel van Namibië waar jy nog nooit was nie.

As jy voel jou vryheid van spraak is die beste deel van onafhanklikheid, kry ’n megafoon en laat jou stem wyd en syd hoor.

Vir my is die wonderlikste deel van onafhanklikheid my eie gesin, wat nooit onder die ou regering toegelaat sou wees te bestaan nie.

Ek sal my vrou soen en vashou, my kinders optel en my dogtertjie op my skouers sit.

Ek sal my seuntjie leer om ons volkslied uit volle bors te sing. Ek sal self vir ons pret en geluk sorg.

Dit is, ná alles, hoe ons dit nog altyd in Namibië doen.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer