Bid vir alle soorte droogte
Bid vir alle soorte droogte

Bid vir alle soorte droogte

Dani Booysen
Dr. Callie Opperman skryf namens Klassis Etosha en Gereformeerde Kerke in Namibië:
Rakende die knellende droogte op geestelike- en landbougebied in Namibië het die Gereformeerde Kerke in Namibië by ons jaarlikse vergadering in September 2016 gevoel om ons op hierdie wyse met die nood van Namibië te vereenselwig.
Ons is diep bewus daarvan dat die droogte ''n groot invloed op die fisieke en geestelike omstandighede van ons land se mense het.
Saam met Romeine 8:10 beaam ons: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.”
Oor hierdie verwagting wil ons graag ''n geloofsverklaring maak om ons land en sy mense te versterk en met hoop te bedien. Ons glo onwrikbaar in dié God wat genoegsaam voorsien en uit wie se hand kom dit wat mooi is (Ps. 16). Dit is Hy wat sy volk nog altyd deur Woestyntye lei, sodat hulle Hom in sy almag en heiligheid kan leer ken.
Ons doen daarom ook ''n beroep op almal om nie net te bid vir die seëninge­ van reën nie, maar veral om in hierdie droë tye werklik by die voete van ons Here en Koning te vergader. Hy is die bron van strome lewende water wat meer versorg as liggaam en veld.
Doen dit in die diepe besef van die stukkendwees in ons eie sonde. Kom staan weer in verwondering voor Hom wat die fisieke waterdors van elke lewende organisme in ons land ken, maar net so ook die geestelike dors van elkeen wat Hy met sy eie hand geskep het.
Moenie moed verloor nie. Glo, hoop en vertrou! Ons bid vir jul elkeen.

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer