Bewaringsgebied vir Musese beplan
Bewaringsgebied vir Musese beplan

Bewaringsgebied vir Musese beplan

Die adjunkminister sê dit is nodig om nog 'n kommunale bewaringsgebied te vestig waar olifante verwoesting saai.
NAMPA
Die vestiging van 'n kommunale bewaringsgebied in die Musese-kiesafdeling in die Kavango-Wesstreek is in 'n gevorderde stadium, het die adjunkminister van die omge­wing en toerisme, mnr. Tommy Nambahu, gesê.

Die Musese-kiesafdeling is geïdentifiseer as 'n gebied wat die ergste onder olifantplundery deurloop en benodig dus die status van 'n bewaringsgebied om effektiewe wildbestuur te verseker.

“Om dit as 'n bewaringsgebied te verklaar is in 'n gevorderde stadium en dokumente is gereed vir goedkeuring deur die minister,” het Nambahu Dinsdag tydens 'n gemeenskapsvergadering by die Rundu-handelskousentrum gesê.

Die vergadering was deel van 'n sesdaagse besoek van visepresident dr. Nickey Iyambo aan die Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreek.

Die proses om 'n bewaringsgebied te verklaar, het Nambahu gesê, is nie maklik nie - veral nie gegewe die ministerie se beperkte begroting nie.

Hy het bygevoeg dat onderrig en bewustheid oor mens-dier-konflik kritiek is. Die ministerie van die omgewing en toerisme het vroeër vanjaar 'n konferensie oor mens-dier-konflik gehou om sy beleid oor dié kwessie te hernu.

Hulle is besig om ander voorstelle van die konferensie te hersien, soos onder meer 'n versekeringskema.

“Ons het meer hulpbronne nodig om die slagoffers van mens-dier-konflik te help,” het Nambahu gesê.

Namibië het tans sowat 22 000 ­olifan­te en die styging in die bevolking beïnvloed nie net mense wat die omgewing met ­olifante deel nie, maar dien ook as geleenthede vir stropers.

Van die middel van 2016 af tot aan die begin van vanjaar, is 213 olifantkarkasse in die Bwabwata Nasionale Park gekry. Vier vermeende stropers het gesterf en nog vier is beseer.

Bwabwata het ook 33 misdaadsake aangemeld, en 63 mense is in verband met stropery-voorvalle in hegtenis geneem.

Wetstoepassers het beslag gelê op 17 gewere, ammunisie en 100 olifant­tande. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer