Bevoorreg en dankbaar
Bevoorreg en dankbaar

Bevoorreg en dankbaar

Lloyd Zandberg
Partykeer bereik mens ’n punt in jou lewe waar dinge ietwat te veel raak.

Dis of jou alledaagse bestaan skielik nie sin maak nie, en ’n roetine wat vroeër sy kant gebring het, jou nou in die steek laat.

Dís die goeie nuus, die feit dat jy dit besef, maar die teenpool van die situasie is: Wat doen ’n ou dan omtrent jou frustrasie?

Daar’s mense wat alles verkoop en oorsee gaan bly. Jy kry dié wat ’n kort kursus in Engels loop en dan vir Chinese kinders Engels gaan leer.

Ander skei ’n man of vrou en gaan neem foto’s op cruise liners. Ek weet van iemand wat sy hele lyf vol loop en tatoe het. Hoe dit ook al sy, jy doen iets heeltemal anders, buite jou roetine.



Jare gelede, ek was nog klein en maer, het ek met familie deur die noordweste van die land getoer. ’n Geheim is dit nie dat Namibië oor ongelooflike plekke beskik nie. Destyds het ek dit eerstehands beleef, met my oë en die res van my sintuie. Toe is ek al omgepraat.

Ek is bevoorreg genoeg om deel van ’n familie te wees wat hul bestaan in die natuur maak. Dis blykbaar in ons bloed. My oupa se pa was die voordanser as dit by reis in die bos kom. Dis waar my oupa dit geleer het, en my pa ook. En nou ek ook.

Só bereik ek daai punt wat in die inleiding van hierdie rubriek bespreek word. Ek is te veel van ’n sissie om iets drasties aan te pak. Ek hou daarvan om die ding bietjie op sy kop te draai, maar ek wil steeds in beheer bly. Vir ’n wyle proe ek hier, trek bietjie daar, maar dit bly maar treurig.

Hoewel ek nie gewoonlik artikels oor die omgewing skryf nie, bevind ek myself onlangs in ‘n lekker, maar vreemde situasie waar ek vir ’n 10 dae lange toer deur Kaokoland in die ry staan. Ek sê sonder enige twyfel: “Waar teken ek?” Soortvan per abuis, maar beslis met my gesag.

Ek bel die hele familie en laat weet: Boetie gaan bosse toe.

Ek reël kameras, tente, hout, braairoosters, gazebo’s, sonskerm, ekstra toiletpapier en ‘n kaart. Almal gee raad en sê my waar die “lekker plekke” is.

Ek is ’n dag voor my vertrek so opgewonde, ek vloek onnodig en vergeet glad om daai aand tande te borsel. Die volgende oggend tref ek en die koerant Outjo op dieselfde tyd. Man, dis ’n fees.

Net anderkant Kamanjab slaan die bande grondpad. Klippe, stof en slaggate. Ek sit die aircon af, draai die ruite oop en haal diep asem. Dis asof ek vars lewe in my longe voel. My ore spring oop en my oë sien weer helder. Ek voel weer reg. Gevestig. Neutraal.

Ek ervaar daai gevoel van vryheid wat ek jare vroeër met my familie beleef het, daai tyd toe ons so gereis het. Dis vreemd hoe alles, of dis ten minste my opinie, gebeur wanneer dit moet. En die belangrikste – wanneer jy dit kan hanteer.

Nooit in my lewe het ek gedink ek sal by die Epupa-valle ‘n rubriek moet skryf nie. Ek verwys na hierdie einste een.

Nog minder het ek geweet dit sou gaan oor waar my hart eintlik lê – hier tussen die stof, klippe, woorde en bome. Eintlik moet dit my nie verbaas nie – ek ís immers hier rond gebore en getoë. Dis fantasties. My Engels is in elk geval nie goed genoeg vir die Chinese opsie nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer