Beter toekoms deur sport

Tanja Bause
Tanja Bause - SCORE Namibia help die afgelope 16 jaar om minderbevoorregte gemeenskappe in die land deur middel van sport te bemagtig.
Die organisasie is huidig in gemeen­skappe in Oshakati, Rundu, Kayengona, Windhoek, Mariental en Keetmanshoop werksaam.
“Ons vlagskipprogram is die Namibië Vrywillige Betrokkenheidsprogram (NAM-VIP). Hierdeur lei ons jongmense as afrigters op om in hul onderskeie gemeenskappe sportbyeenkomste te kan organiseer en aan te bied,” het mnr. Raymond Vries van SCORE Namibia gesê.
Die doel van NAM-VIP is om kinders en jeugdiges lewensvaardighede aan te leer en ook hul sosiale vaardighede, selfvertroue, tydsbestuur, spanbestuur en spangees te bevorder.
“Ons lei die vrywilligers op om self sportgebeure te kan organiseer en programme oor gesondheid, kultuur, geslag, entrepreneurskap en omgewing aan te bied,” het hy gesê.
SCORE het vanjaar die Cup of Heroes begin waartydens gemeenskappe aangemoedig word om sportklubs te stig, te registreer en te bestuur.
“As die reël word altyd sokker, netbal en vlugbal aangebied, maar ons is oop vir enige sportsoort wat die vrywilliger in sy klub wil bevorder en wat die gemeenskap voor vra.”
SCORE is 25 jaar gelede in Suid-Afrika deur die Amerikaanse Olimpiese roeier me. Juliet Thompson begin. Dit het 16 jaar gelede na Namibië uitgebrei en is hier as ’n nie-regeringsorganisasie geregistreer. Maandeliks neem tussen 900 en 1 200 kinders aan ver­skillende sportaktiwiteite en programme in die ses gemeenskappe deel.
Die Cup of Heroes word ook in Suid-Afrika aangebied en alle SCORE-­gemeenskappe neem teen mekaar deel. Hulle word maandeliks volgens hul programme beoordeel en die 12 beste spanne kom in Pretoria teen mekaar te staan om as wenner gekroon te word.
“Dit sal vir ons kinders baie beteken as hulle onder die 12 beste kom en na Pretoria kan reis. Baie van die kinders het nog nooit die geleentheid gehad om verder as hul onderskeie dorpe te reis nie, om nie eens te praat van uit die land nie,” het Vries gesê.
SCORE bied vanaf 19 tot 21 Augustus sy jaarlikse fees op Mariental aan, wanneer kinders en jeugdiges uit nege streke van die land teen mekaar in sokker, vlugbal en netbal sal meeding.
“Ons hou ook ’n kultuuraand waartydens die kinders iets moet opvoer. SCORE en sport gaan nie net daaroor dat die kinders oor ’n sportveld hardloop nie, maar ook oor die ontwikkeling van ander vaardighede.”
SCORE is deel van Namibia Runs for Charity wat op 16 Julie in Windhoek plaasvind. Dit word by die Môreson Spesiale Skool in Windhoek aangebied en alle geborgde bydraes word aan die einde van die dag aan die begunstigde organisasie oorhandig.

Kommentaar

Republikein 2026-06-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer