Beter Tanzaniër kom toets Nakathila

Boks
Jeremiah Nakathila (vegnaam Low Key) bly die gunsteling om sy opmars in die bokswêreld voort te sit wanneer hy op 28 Maart by die Windhoek Buiteklub in die hoofgeveg betrokke is van die “Undefeated @ 30” boksaand ter viering van die land se drie dekades van onafhanklikheid.

Die promotor Nestor Tobias het vir die derde keer daarin geslaag om 'n opponent vir Nakathila vir dié datum vas te knoop.

Die oorspronklike teenstander, Rofhiwe Maemu van Suid-Afrika, moes hom onttrek vanweë beserings wat tydens 'n motorongeluk opgedoen is. Hierna het sy landgenoot Anthony Molisane ingestem, maar die Wêreldboksorganisasie (WBO) het sy goedkeuring vir die geveg weerhou op grond van Molisane se vegrekord.

Nakathila, as huidige houer van die WBO se “globale” junior liggewiggewigtitel, sal nou teen Emmanuel (Sniper Man) Amos van Tanzanië te staan kom.

Die uitdager bring die jeugdige ambisie van 'n 21-jarige, tesame met 'n beroepsrekord van 15 oorwinnings (sewe uitklophoue), drie nederlae (almal met punte) en een gelykopuitslag. Die vlak van sy opposisie tot dusver kan egter nie beter as middelmatig beskryf word nie.

Die gedugte Namibiër (19 oorwinnings, 15 uitklophoue, een nederlaag) bly die volslae gunsteling op grond van die feit dat die WBO hom tans as aanspraakmaker nommer 2 op sy wêreldtitel aanskryf.

Nakathila en sy promotor glo dat nog 'n oorwinning einde vandeesmaand hom tot WBO aanspraakmaker nommer 1 sal laat opskuif, omdat die WBO-wêreldkampioen Jamel Herring van die VSA se volgende geveg vir Juniemaand teen die huidige nommer een, Carl Frampton van Noord-Ierland, bespreek is.

Ongeag laasgenoemde uitslag, is Nakathila dus op koers om die verpligte teenstander vir die wenner van dié wêreldtitelgeveg te word.

In 'n nuusverklaring deur sy promotor Nestor Tobias het Nakathila gesê: “Ek is baie opgewonde oor hierdie geveg. Daar is soveel op die spel dat ek geen ander keuse het as om te wen nie. Ek sal dus alles gee om seker te maak dit gebeur.

“Ons vier terselfdertyd ons land se 30ste jaar van onafhanklikheid en 'n oorwinning sal dus nog soeter wees. Ek nooi alle boksliefhebbers om op 28 Maart 'n aand van wêreldklas boksgevegte te kom geniet.”

Die program van voorgevegte sluit nóg gedugte en gewilde Namibiese vegters in – soos die WBO Afrika weltergewigkampioen Mike Shonena en die supermiddelgewig Walter Kautondokwa (The Executioner) wat tevore die WBO Afrika-titel gehou en uitdager in 'n wêreldtitelgeveg was.

Kaartjies vir gewone toegang beloop N$200 by Computicket of N$250 wanneer dit by die deur aangekoop word. Tafels vir tien tussen die belangrike gaste word vir N$10 000 elk verkoop.

Die gevegte word deur MTC Nestor Sunshine Bokspromosies aangebied en word deur MTC geborg.

Kommentaar

Republikein 2025-08-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer