Bestuurder afgedank oor kommentaar in sosiale media
Bestuurder afgedank oor kommentaar in sosiale media

Bestuurder afgedank oor kommentaar in sosiale media

Dani Booysen
Phillepus Uusiku – Bank Windhoek en die Capricorn-groep het by navraag bevestig 'n senior bestuurder wat verlede jaar geskors is, is afgedank.

Mnr. Riaan van Rooyen, voorheen die bank se verkoopsbestuurder, is in Oktober verlede jaar geskors toe kommentaar wat hy op Facebook gelewer het 'n storm in die sosiale media ontketen het. By 'n ou inskry­wing deur iemand anders wat uit 'n foto van betogende studente in Suid-Afrika en 'n foto van bobbejane en ape bo-op 'n motor bestaan het, het hy 'n vergelykende opmerking gemaak waarby baie aanstoot geneem het.

Verlede jaar het verskeie sulke gevalle van beweerde rassistiese uitsprake in die sosiale media die Namibiese media gehaal.

“Die interne proses is afgehandel en ons kan bevestig die individu is afgedank,” lui die groep se skriftelike reaksie op die koerant se navraag. “Bank Windhoek en Capricorn-groep herhaal ons het 'n beleid van geen toleransie vir enige gedrag wat nie aan interne beleid voldoen nie en nie tot die waardes spreek wat ons etiese sake-optrede onderlê nie; deur enige werknemer op enige vlak,” het me. Jacquiline Pack, Bank Windhoek se uitvoerende beampte vir bemarking en korporatiewe kommunikasie, gesê.

Na wat verstaan word, is die afdanking reeds verlede jaar voltrek en was 'n interne appèl onsuksesvol.

FOTO
Me. Baronice Hans, die besturende direkteur van Bank Windhoek.

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer