Besluit finaal oor Helao Nafidi-hou00eb, su00ea minister
Besluit finaal oor Helao Nafidi-hou00eb, su00ea minister

Besluit finaal oor Helao Nafidi-hoë, sê minister

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling het Helao Nafidi se bestuursbesluit afgekeur om hul 65-jarige uitvoerende hoof se kontrak tot einde 2022 te verleng.
Sanet de Waal
Tuyeimo Haidula op Oshakati



Ondanks die feit dat die bestuurskomitee van Helao Nafidi in die Ohangwena­streek sy uitvoerende hoof, me. Inge Ipinge (65), se kontrak tot einde 2022 verleng het, het die uitvoerende direkteur van landelike en stedelike ontwikkeling, mnr. Nghidinwa Daniel, gesê die minister se besluit om die verlenging van die kontrak te verwerp, is finaal.

Die minister van landelike en stedelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, het aan die munisipaliteit geskryf en gesê hy het die aanbeveling afgekeur omdat die raad se besluit nie met die Wet op Plaaslike Owerhede (Wet 23 van 1992) strook nie.

Die arbeidskenner mnr. Herbert Jauch het gesê daar is volgens die wet geen probleem met die besluit om Ipinge se kontrak te verleng nie, aangesien Namibië se wetgewing nie mense verplig om die werksplek te verlaat nadat hulle op 60 jaar afgetree het nie.

Ipinge se dienskontrak verstryk eerskomende Vrydag, maar die bestuurskomitee het aanbeveel haar kontrak word vanaf 7 Augustus vanjaar tot 30 Desember 2022 verleng.

Uutoni het Sondag aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê hy is nie bewus daarvan dat sy besluit deur die dorp se leierskap betwis word nie en het hulle na Daniel verwys.

Daniel het daarop gewys dat volgens die wet op plaaslike owerheid, die bevoegdheid by Uutoni berus. Die raad het die reg om hul besluit aan die minister voor te lê, maar die minister kan dit verwerp of onderskryf.

“Die minister se besluit is finaal wat wetgewing betref.”

Die voorsitter van die komitee, mnr. Sakaria Haimbili, wou nie kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie en het gesê die burgemeester, mnr. Darius Shaalukeni, hanteer alle navrae. Shaalukeni kon egter nie bereik word nie.

Shaalukeni het 'n week gelede aan Namibian Sun gesê die sewe Swapo-raadslede moet vergader, hul besluit verdedig om Ipinge in haar pos aan te hou en die minister se brief beantwoord.

Ipinge is die jonger suster van Swapo se visepresident, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer