Beskerming van osoonlaag: 35ste jaar herdenk
Beskerming van osoonlaag: 35ste jaar herdenk

Beskerming van osoonlaag: 35ste jaar herdenk

Francoise Steynberg
Namibië gedenk vandag die 35ste Internasionale Dag vir die Bewaring van die Osoonlaag.


Volgens die direktoraat van nywerheidsontwikkeling se nasionale osoon-eenheid in die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel is die tema vir vanjaar “Ozone for life: 35 years of ozone layer protection”.

“Vanjaar word 35 jaar van die Weense Konvensie en 35 jaar van globale osoonlaagbeskerming gedenk. Lewe op aarde sou onmoontlik sonder sonlig wees,” lui die mediaverklaring.

“Die energie wat die son uitstraal, sou egter te veel wees vir lewe op aarde om te floreer as dit nie vir die osoonlaag was nie. Die stratosferiese laag beskerm die aarde teen die son se mees skadevolle ultravioletstrale.”

Volgens die verklaring het wetenskaplike in die laat 1970’s ontdek dat die mensdom ‘n gat in die osoonlaag veroorsaak het weens die gebruik van spuitkannetjies en verkoelingsapparate soos yskaste en lugverkoelers.

“’n Verswakte osoonlaag verhoog die voorkoms van velkanker, oogkatarakke, skade aan plante, gewasse en ontwrig ekostelsels.”

In 1985 het partye die Weense Konvensie vir die Beskerming van die Osoonlaag aanvaar. Onder dié konvensie se Montreal Protokol, het regerings met wetenskaplikes, nywerhede en verskillene bedrywe saamgewerk om 99% van die gebruik van produkte wat die osoonlaag beskadig, te staak.

Ter ondersteuning van dié protokol, het die Kigali-amendement in 2019 van krag geword wat daarna streef om kweekhuisgasse te verminder om klimaatsverandering hok te slaan.

Wêrelddag vir Osoon word jaarliks op 16 September gedenk as herinnering om die osoonlaag vir toekomstige geslagte te beskerm.

Foto ozone.unep.org

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer