Beskerm die stelsel die misdadiger?
Beskerm die stelsel die misdadiger?

Beskerm die stelsel die misdadiger?

Mandy Rittmann
DIRK VAN ZYL SKRYF:

Ek hoor hulle oor die radio; sien en hoor dit op die TV as die mense getuienis lewer. Van hulle huil. Ander is effe in beheer van hulle emosies, maar onderdruk dit met moeite.

Volgens hulle het die drank hulle lewe verwoes; hulle het hul werk verloor as gevolg van drankmisbruik. Van hulle was in ongelukke; hulle is aangekla van verkragting of aanranding en is toegesluit. Ook voer hulle aan dat hulle nie hierdie dinge sou gedoen as hulle nie gedrink het nie. Hulle vriende was almal soos hulle, maar nou is hulle dankbaar dat hulle van Satan verlos is. “Waarom is daardie eens hoogaangeskrewe god nou 'n duiwel?”

Hulle erken in hulle getuienis hul lewe was sleg en hulle het vuil en morsig gelewe. Oral word bottels gebreek, gevloek, hulle steel geld om drank te bekom, hulle oortree die wet, hulle is verslaafdes, want as jy net een drankie drink, en kan die nie los nie, is jy verslaaf.

Drank is 'n verdowingsmiddel. Die wat dit kan bekostig het 'n kroeg in die huis, want hy/sy moet altyd in 'n beswyming wees. Hulle word kwaad as jy hulle vergelyk met 'n ander drinker, want hulle kan nie onder­skei nie. As hulle vergelyk word met iemand wat volgens hulle 'n dronklap is, dan is hulle ontstoke. Hulle besef nie al die drinkers is dieselfde spesie nie.

Of jy bietjie drink, of baie drink, jy is 'n drinker. As jy 'n baba vermoor, of 'n koning, is jy 'n moordenaar. Hulle is almal van die alkoholfamilie.



DIE DRANKDUIWEL

Die hele huis is 'n stoorplek vir drank: in die kombuis, die slaapkamer, die sitkamer, in die muurkassie van die badkamer; en die regering laat hierdie verdowingsmiddel toe, want hulle het besluit dat dit aanvaarbaar, sowel as wettig is. Waar jy in die huis kyk, word drank adverteer, want dit staan voor die oog.

Eenkant word gebid dat die drank moet stop, maar aan die ander kant vloei dit in soos besoedeling oor die aarde. Die regering is goeie vriende van die drinkers, want hulle word gewaarsku dat die dranklokale, byvoorbeeld op Kersdag, gesluit sal wees.

Ek persoonlik het dit so verstaan: nou weet die mense en koop die drank voor die tyd, en koop meer as wat nodig is. (Ek dink geen drank is reeds te veel.)

Hulle bely verder dat die drank hulle van God vervreem het, en dat hulle hul lewensmaat verloor het, en die kinders wil hulle nie meer ken nie. Die mense kyk na hulle soos iets wat veragtelik is. “Let op dat die drank altyd as die misdadiger beskou word.”

Steeds staan die regering lisensies toe vir die verkoop van alkohol. Steeds kla die wetstoepassers dat hulle probleme het met die drinkers.



PADVEILIGHEID EN OPVOEDING

Die drinkers moet nie drink en bestuur nie, dis op almal se lippe. Baie van die drinkers bestuur nie, maar doen al die ander dinge wat genoem is. Dronkbestuur is 'n groot saak, maar die grootste is die aanranding en verkragting wat daagliks geskied.

Ons het soveel of soveel gevang vir dronkbestuur, en ons het soveel of soveel dollar se boetes geskryf. Die mense wil nie hoor nie, ons sal meer en meer toeslaan, en vra vir hoër boetes. Die drinkers moet van die pad af.

Die regering sien net die dollars wat gemaak word uit boetes, en belasting wat beskryf word as “sondebelasting”.

Waarom keur die regering dan die sonde goed, en laat dit in ons huise toe?

As kinders nie op plekke mag wees waar gedrink word nie, geld dit ook vir die huis waarin hulle bly, en die restaurant waar gedrink word? Moet ons nie van die sonde af wegvlug nie?

Dit lyk of die regering drankgebruik sien as 'n godsdiens, en jy het vryheid van godsdiens - aanbid maar die drankgod, niemand sal jou stop nie.

As 'n man sê die drank wat hy gelos het, is Satan, vertel dit vir my dat dié Satan sy god was, want hy het die drank verkies om hom te vertroos en te bemoedig.

Daar is ouers wat die kinders van kleins af drank gee. “Kom vat gou hier 'n slukkie van ma se bier, of van pa se sterk drank.” Hulle verweer is dat die kind moet leer om die drank te hanteer.

My vriend, net God kan vir Satan beheer. Hulle sal nog die kind so leer, dan is die kind 'n verslaafde. Hulle sal nooit erken dat hulle as ouers verslaaf is nie, want verslaaf is mos 'n lelike woord.

As die drank dan die skuld kry vir alles, dan is die drank mos die misdadiger, en waarom beskerm die regering en die drinkers dan die misdadiger?

Net soos die huurmotors wat oop en bloot voor die wetstoepassers die wette oortree, en nie gesien word nie - hoe wil hulle die sien wat nie gesien wil word nie?

Ek weet nie of u dit verstaan nie, maar daar word gesê iets raak weg tussen neus en ore. Of dit gebeur tussen neus en ore, en niemand sien dit nie. Tussen die neus en die oor is die oog, wat soms doelbewus gesluit is. Ek hoor die storie, en die reuk van onwettigheid is in die lug, maar ek maak of ek blind is.

Hulle gee 'n nommer waarby die probleembestuurder aangemeld kan word. Hulle kan ons bedank vir die oproep, en dis die einde van die storie. Hulle kan dalk die voertuig stop, en die bestuurder ontken dit, veral as hy meer getuies het as die klaer.

“Dankie vir die wat nie die misdadiger beskerm nie, en tog die oproep opvolg.”

As die misdadiger uitgewis word, wat word van die polisie (alle afdelings), die tronkbewaarders, van die prokureurs, van die advokate, sekuriteitsbeamptes, reserviste, ens. Almal sal sonder werk sit. Sien hoe groot werkverskaffer is die misdadigers?



VANDAG SE KINDERS

As ek vandag se kind is, (nie almal nie) sal ek ook sê: Ons het 'n goeie regering, ons word nie vervolg as ons nie in die skool is nie. Hulle ry by ons verby terwyl ons in die strate bedel. Ons steel uit die voertuie, en hardloop weg, want as ons in die skool was, sou ons nie hierdie kans gekry het nie. Ons mag nie geslaan word nie, ons goeie regering is sterk, en het dit wat God gesê het van die kinders wat getug moet word summier gestop. Ons regering laat niemand toe om ons te laat werk nie, ons luister nie na ons ouers nie, want ons het ook 'n reg en 'n sê.

Ons lag in ons mou as die mense sê dat die ouers met hulle kinders moet praat, en hulle laat verstaan dat hulle moet leer. Ons is nie verplig om te leer nie, want dis werk, en ons hoef nie nou te werk nie.

Buitendien is die onderwysers nie ons base nie. Wat wil hulle doen as ons nie leer nie?

Baie van die kinders sit in die tronke, saam met volwassenes. Die regering pas hulle op, gee hulle drie maaltye per dag. Niemand sal aan hulle raak nie, want hulle word met vuurwapens beskerm. Hulle is onderdak, hulle godsdiens word bedien, hulle siektes kry aandag, en nog baie ander dinge - en die belastingbetaler; ja, ook julle wat verkrag en beroof is ensovoorts, moet betaal vir die misdadiger se versorging.

As ek eendag stemreg het, dan stem ek vir hierdie regering, want dit lyk my dat die misdadiger tog beskerm word.

Kommentaar

Republikein 2025-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer