Bemark beeste sodra hulle markgereed is

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Deur speenkalwers vir ‘n ekstra ses maande aan te hou en te verkoop as hulle markgereed is, verhoog mnr. Quinton Barnes van Botswana hul waarde met 111% van speenouderdom.
Dus kry hy P4 212 (pula), in plaas van P2 000, per kalf in sy sak.
Barnes, wat ook holistiese boerderybestuur toepas, was een van die sprekers tydens vanjaar se jongboer van die jaar-geleentheid op 9 Maart op die plaas Springbockvley. Hy bestuur ‘n beesboerdery in Botswana, wat deel vorm van ‘n familiebesigheid wat ook besproeiingsprojekte in Suid-Afrika in die Noord-Kaap insluit.
“Ons speen ons kalwers in Junie tussen die ouderdom van ses en sewe maande. Hul gemiddelde gewig is dan 200 kg en hul waarde P2 000. In Botswana word ons sowat P10 per kilogram vir ligte slagdiere betaal.
“Teen die einde van November, net voor die reënseisoen, weeg die kalf 220 kg en is sy waarde P2 750 (teen P12,50 per kg). Tussen Junie en Desember groei hulle sowat 100 g per dag.
“Ons het ervaar dat speenkalwers in die reënseisoen tot in Mei sowat 650 g per dag op P21 basismineraallek en weiding groei. Ons verwys na die groei oor ses maande as kompenserende groei,” het Barnes gesê.
Teen die einde van Mei, op 180 dae, weeg sy speenkalwers sowat 337 kg en is hul waarde P4 212.
“Tussen Junie tot Desember, was daar dus 38% groei in die waarde van die speenkalf en van November tot einde Mei is daar ‘n verdere 35% groei.
“Deur die speenkalf vir ‘n ekstra ses maande in die reënseisoen te hou, voeg ons P1 462 inkomste per bees by. Altesaam is egter P2 212 of 111% se inkomste gegenereer omdat ons nie die speenkalwers verkoop het nie.
“Bemark beeste sodra hulle markgereed is.”
Barnes sê sy bedryfskoste per bees per jaar is N$990 (P733).
“Ons uitgawes op lek is N$179 per jaar en ons het een werknemer vir elke 200 beeste asook een voertuig en een plaasbestuurder vir elke 15 000 ha waarop ons boer,” het hy gesê.


Ekologiese bestuur
Barnes sê tydens die reënseisoen tref hy voorsorg vir herstelperiodes van sy weiding op grond van hoe goed die oorheersende grasspesies vaar. Die voorsorg help ook met die ontkieming en ontwikkeling van jong grasplantjies.
“Tydens die droë seisoen stel ons eers vas hoeveel voedingsmateriaal ons oor het voor die eerste lentereën verwag word. Met dié strategie neem ons ook droogtes in ag. Dit vorm deel van ons beplanning dat vee droë plantmateriaal in die winter in die grond intrap sodat die organiese inhoud daarvan verhoog kan word.
“In die wintermaande bewei ons ‘n kamp tweemaal, want dit help met die geleidelike vermindering van die suurheidsgraad in die vee se grootpens, soos die voedingswaarde van die gras ook stelselmatig verswak,” het Barnes gesê.
Barnes sê voor die droogte het hulle twee beeskuddes aangehou, maar het dit intussen na een kudde verander.
“Ek pas nie-selektiewe, hoë digtheidsbeweiding binne ‘n kort tydperk toe. Ek het 64 kampe wat ek vir 180 dae laat rus. Die gemiddelde weidingstydperk is 2,85 dae.
“My bestokking is nege beeste per hektaar, wat beteken as die kamp 100 ha groot is, sal ons 900 koeie daar laat wei. My plaas se drakrag is 1 koei op 10 ha.”
Barnes sê met hierdie metode kon hy verlede jaar, ten spyte van die droogte, steeds 16 kg per ha produseer en ‘n bestokkingsyfer van 45 kg per hektaar handhaaf.


Opname van weiding
Barnes sê die lengte van die weiperiode word beïnvloed deur die grootte van ‘n kamp, die gehalte en hoeveelheid gras wat beskikbaar is asook die aantal beeste wat daarop gaan wei.
Hy maak twee maal per jaar ‘n opname van sy weiding – aan die begin van die winter en aan die begin van die groeiseisoen.
“Ek stal dan die gehalte en hoeveelheid van die beskikbare eetbare materiaal vas. Dit sluit ‘n opname van die verhouding tussen gras en eetbare bos in.
“Bosindringing raak ‘n kwessie, maar ons het agtergekom met hoë digtheid beweiding, is daar ‘n vermindering in die groei van bosse.”


Bestuur van beeste
Barnes sê die droogte het dit genoodsaak dat hy sy koeikudde uitgebrei het en die beeste vir die eerste keer teen siektes ingeënt het. Voorheen het hy op hul natuurlike immuniteit staatgemaak. “Koeie wat nie die eerste keer dragtig geraak het nadat hulle by die bul geplaas was nie, is ‘n tweede kans gegun, wat ‘n effense groei in vrugbaarheid vir die kudde gebring het.
“Ons het die kruppel en ou koeie verkoop en het om finansiële redes nie verder bulle ingekoop nie. My ervaring was dat bulle wat uit klein kuddes kom en in ons groot kuddes geplaas word, swakker presteer.
“Die bulle wat ons self geteel het, het beter in terme van aanpasbaarheid en vrugbaarheid gevaar. Ons het dus bulkalwers uit ons eie kudde geselekteer en elke jaar vir vrugbaarheid getoets.
“Die kriteria wat ons gebruik het, was of hulle eenvormig is, of hulle goeie vleiseienskappe het, hoe hul kondisie was, die grootte van hul testikels en op grond van hul vrugbaarheid,” het Barnes gesê.
Volgens hom het dié metodes gelei tot meer kalwers, verbeterde winste, die produksie van maksimum kilogram per hektaar en ‘n groter basis waaruit vroulike diere gekies kon word.
“Die negatiewe is dat ons nou minder hoogsvrugbare koeie het en ‘n groter voorkoms van siektes. Ons het oor die algemeen ook ‘n swakker gehalte bulkudde gehad.”


Wins
“Ek pas holistiese bestuur toe, want dit bied ‘n basis hoe ons onder meer finansiële, sosiale en ekologiese uitdagings die hoof kan bied. Die resultaat is ‘n kompeterende voordeel in ‘n altyd veranderende en uitdagende landbou-omgewing.
“Die beginsels van ons finansiële beplanning sluit beginsels in om vir wins en inkomste te beplan en swak skakels uit te wys. Die geld wat oorbly, word in ander winsgewende bedrywe belê.”
Volgens Barnes werk die stelsel ook goed om enige “swak skakels” in ’n boerdery uit te wys. Die swak skakels kan volgens die stelsel net die omskakeling van hulpbronne (te min beeste), energie (te min gras) of bemarking wees.
“Ons probeer om 2% wins te maak op die bates wat ons bestuur, maar is nog nie heeltemal daar nie. Ons ervaar dat die swak wisselkoers tans druk op uitgawes plaas.
“Ons het ook nog sekere ondoeltreffende praktyke binne die besigheid en ervaar verminderde drakrag as gevolg van die droogte. Ons moes reeds beeste verkoop, maar ons onkoste bly steeds dieselfde,” het Barnes gesê.
Volgens hom het die droogte tot ‘n groter voorkoms van siektes onder die beeskuddes gelei, iets waarmee hy nie vantevore probleme ervaar het nie. Dit het ‘n verdere impak op sy winsgewendheid gehad.
“Tydens die droogte het ons probeer addisionele grond huur, maar dan kom die vervoer van beeste tussen plase as nog ‘n uitgawe na vore. Nog iets wat tans ‘n groot invloed op ons wins gehad het, is die koste om ou infrastruktuur te onderhou.”
Barnes sê hy het met die aanbreek van die droogte te lank geneem om van oortollige vee ontslae te raak.
“Die droogte sal oor die volgende drie tot vier jaar ‘n uitgerekte impak op ons finansies hê,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer