Belegging in rdiu00e9 aandele dalk r'n slim plan
Belegging in rdiu00e9 aandele dalk r'n slim plan

Belegging in dié aandele dalk 'n slim plan

Estelle de Bruyn
Die Suid-Afrikaanse aandelebeurs (JSE) kan vanjaar effens beter vaar as verlede jaar, sê ontleders.

Maar hulle waarsku ook dat politieke gebeure in Suid-Afrika en oorsee 'n groot onbekende faktor is en verrassings kan inhou.

“As ons een les uit 2016 neem, is dit: Pasop om op grond van vooruit­skattings te belê,” sê Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.

“Die bewegings in die markte gaan deur politiek aangedryf word en daarom is dit moeilik om te raai wat gaan gebeur.”

Solank Suid-Afrika nie afgegradeer word nie en die tesourie toegelaat word om sy werk te doen, behoort die JSE tog vanjaar beter te vaar as verlede jaar, meen hy.

John Orford van die Old Mutual Investment Group sê hulpbronaandele behoort vanjaar weer goed te vaar, maar waar­skynlik nie so goed soos verlede jaar nie. Anglo American se aandeelprys was byvoorbeeld op 30 Desember verlede jaar 182% hoër as op 31 Desember die vorige jaar.

Ook banke sal weer goed vaar. Standard Bank se aandeelprys was einde verlede jaar 34% hoër as 'n jaar tevore en Nedbank s'n 28%.

Plaaslike maatskappye wat verlede jaar weens hoër rentekoerse gesukkel het, behoort vanjaar beter te vaar, sê hy. Hieronder tel veral kleinhandelaars. Woolworths se aandeelprys was einde verlede jaar 29% laer as einde 2015 en Mr Price s'n 20%.

Orford sê rentekoerse het waarskynlik reeds by sy hoogste punt gedraai.

Hy verwag ook dat plaas­like eiendomsmaatskappye, soos Growthpoint, vanjaar goed sal vaar maar sal steeds wegbly van randverskansers soos British American Tobacco.

Wayne McCurrie, hoofportefeuljebestuurder van Momentum Wealth, sê ook banke gaan goed vaar en dat hulpbronaandele gaan groei, maar nie soveel soos verlede jaar nie.

“Die groot onbekende faktor is Donald Trump. Ons weet nog nie wat sy termyn as president gaan inhou nie en daarom is ek nie pessimisties nie. Dis nog te gou om te sê.”

Aan die een kant word verwag dat die sterker Amerikaanse ekonomie ook goed vir Suid-Afrika­ sal wees, maar aan die ander kant kan Amerikaanse rentekoerse styg. Hy reken die indeks van alle aandele kan vanjaar “soort van behoorlik” presteer, met 'n opbrengs van tussen 10% en 15%.

Die indeks van alle aandele was einde verlede jaar 2,7% hoër as die sluitingsvlak op 4 Januarie (die eerste handelsdag van die jaar).

Benewens die nuwe Amerikaanse president is ander onbekende politieke faktore die verkiesings wat voorlê in Nederland, Frankryk en Duitsland, waar kandidate wat meer proteksionisties en nasionalisties is nes in die VSA en met Brexit in Brittanje verlede jaar dalk kan seëvier, sê Vorster.

In Suid-Afrika kan skommelinge in die ANC in die aanloop tot die partykongres in Desember 'n invloed hê.

-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer