Beleefdheid kos jou niks
Beleefdheid kos jou niks

Beleefdheid kos jou niks

[email protected]
Sanet de Waal
Tanja Bause – Ek het vanoggend by ’n verkeerslig stilgehou en ’n oupa het tussen die voertuie op en af geloop en probeer om een of ander pamflet aan die mense uit te deel. Hy was nie baie suksesvol nie, want niemand wou een vat nie.

Die meeste mense maak asof hulle hom nie raaksien nie. Hy is deursigtig en hulle staar voor hulle uit of gluur vir hom, of eintlik deur hom. Ander dink hy is ’n vlieg en waai met hul hand soos jy ’n vlieg bo ’n bord kos sal wegwaai.

Ek weet regtig nie watter van die twee behandelings die ergste is nie. Staan daar nie iewers jy moet aan ander doen wat jy wil hê hulle moet aan jou doen nie?

Ek hoop vir die ongevoelige bestuurders dat hulle nooit so behandel sal word soos hulle die oupa behandel het nie; dat hulle nooit so nutteloos en onwaardig sal voel nie.

Die oupa het seker die ondankbare werk aanvaar om ’n ekstra geldjie te verdien en om iets te doen. Mens kan aan sy gesig sien dis ’n man wat gewoond is om te werk en nou met die ouderdom dit nie meer kan doen nie. Dat hy tog nog voel hy kan iets doen en iets vir die samelewing beteken.

Hy het die oggend vroeg opgestaan, sy pamflette gevat en na die kruising gegaan. Dalk het hy nog die oggend vroeg geglimlag terwyl hy probeer het om hulle uit te deel. Maar daardie glimlag was teen die tyd wat ek by hom aangekom het lankal van sy gesig gevee en sy blink oë nie meer so blink nie.

Dalk wou hy net ’n goeie werk doen en al die pamflette in mense se hande gee sodat hy terug kan gaan en dalk weer in die toekoms die werk kan kry. Hy het probeer, maar ek kan hom nie kwalik neem as hy moed opgee en die res van die pamflette eenvoudig in die asdrom gooi nie.

Toe die oupa by my venster kom staan, het ek dit oopgemaak, hom vriendelik gegroet, die pamflet gevat en hom bedank. Dit het my 10 sekondes gevat en vier woorde, “goeie môre” en “baie dankie.”

Dis letterlik al wat dit van my vereis het. Ek het die pamflet in my voertuig gegooi en sal seker nie weer daarna kyk nie.

Hy weet dit nie. Niemand weet dit nie, maar daardie klein gebaar glo ek het vir hom baie beteken. Vir ’n oomblik was hy nie deursigtig nie, hy was nie ’n vlieg nie; hy was ’n man wat sy werk gedoen het. Hy was waardig, hy kon iets doen, hy het die geldjie verdien wat hy vir die werk gaan kry.

Is dit nie hoe ons almal wil voel nie? Jy wil voel jy het jou geld verdien, dat jy daarvoor gewerk het. Niemand wil deursigtig wees of voel hulle is ’n lastige vlieg nie. In ’n ideale wêreld wil ons ook almal voel ons beteken iets, dat ons raakgesien word en ons nou en dan bedank word vir dít wat ons doen.

Al wat dit van my geverg het, was “goeie môre” en “baie dankie”. Woorde wat aan elkeen van ons lewens ’n verskil maak, woorde wat ons almal van hou om te hoor, maar tog so suinig is om uit te deel.

Kommentaar

Republikein 2025-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer