Belu00ea in plaaslike musikante
Belu00ea in plaaslike musikante

Belê in plaaslike musikante

[email protected]
Leandrea Louw
Ons het ’n samelewing geword wat voortdurend “gratis afslag” verwag. Vir alles. ’n Kwessie wat persoonlik na aan die hart lê, is dié vanorganiseerders van geleenthede wat verwag dat musikante gratis sal optree, of bloot “vir blootstelling”.

Covid-19 het dinge glad nie beter gemaak nie, vir niemand nie. En ongelukkig is musikante van die eerstes wat aan die agterste speen suig.

Nogtans is daar veel meer aan die huur van ’n musikant as wat mens met die eerste oogopslag sien.

Organiseerders dink soms hulle betaal net vir iemand om ’n paar liedjies op te voer.

In werklikheid betaal jy veel meer as dit: jy betaal vir toerusting en instrumente, ure se oefen, oefenruimte, ure om die woorde van spesifieke liedjies wat jy aangevra het te leer; vervoer na en van die venue; tyd en geld bestee aan die vervolmaking van die handwerk-, promosie- en webwerfkoste; sowel as telefoon- en internetrekeninge wat bestee word aan die organisering van die uitvoering.

Dit sluit nie eens kos, huisvesting, rekeninge en alle ander lewenskoste in nie.

Jy sou nie verwag dat ’n loodgieter, skrynwerker, haarkapper, dokter, tandarts, elektrisiën of werktuigkundige gratis sou werk nie, of net om hul besigheid ’n goeie naam te gee nie.

Wat maak ’n musikant dan anders?

As jy nie ’n musikant kan betaal om by jou geleentheid op te tree nie, vra jouself af wat jy kan doen om die kunstenaar te bevorder of op te hef?

Ek het onlangs iets op Facebook raakgeloop, waar ’n ou die musikantegilde bel om ’n kwotasie op ’n 6-stuks orkes vir ’n troue te kry.

Die verteenwoordiger sê “ongeveer U$2 000”. Die man sê: “Wat, vir musiek?” waarop hy reageer en sê: “Skakel die loodgietersvakbond en vra vir ses loodgieters om van 18:00 tot middernag op ’n Saterdagaand te werk. Wat hulle jou ook al vra, ons sal vir die helfte werk.”

Baie mense dink steeds die uitvoering van musiek of oor die algemeen die kunste is “nie ’n werklike loopbaan nie” en almal wat daaraan deelneem, doen dit vir die pret, of sodat hulle nie “regte werk” hoef te doen nie, of omdat hulle in ’n superster-fantasie probeer leef .

Dit is tyd dat die samelewing besef dat die kunste ewe belangrik is as medisyne, ingenieurswese en wetenskappe.

Waarmee het jy jouself besig gehou gedurende inperking? Netflix, musiek, lees en die lys gaan aan – die kunste!

Die Amerikaanse musikant Henry Rollins verduidelik presies wat dit beteken dat om ’n kunstenaar te wees: “Being an artist is dragging your innermost feelings out, giving a piece of yourself, no matter in which art from or in which medium.”

Deur ’n musikant “blootstelling” aan te bied, vertel jy hom of haar letterlik dat sy musiek, sy stem, sy siel nie die moeite werd is nie.

Hou op om plaaslike kunstenaars met dié van die internasionale mark te vergelyk. Elkeen het sy eie klank en eie individualiteit.

Dit is tyd dat ons ons plaaslike talent ondersteun in plaas daarvan om duisende dollars vir internasionale optredes te betaal. Dit is jou duisende dollars wat hulle help om hul kuns te skep; waarom belê jy nie vir ’n verandering in plaaslike talent nie?

Laat ons ons uitkyk hierop verander. Set new trends sodat ons die kunste plaaslik kan ophef.

Kommentaar

Republikein 2025-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer