Belu00ea hier in groenkrag
Belu00ea hier in groenkrag

Belê hier in groenkrag

Francois Williams – Suid-Afrikaanse beleggers kan binnekort nog ’n manier vind om hul geld in groenkrag en die stryd teen klimaatsverandering te belê.

Die Suid-Afrikaanse bankgroep Investec en die Britse UK Climate Investments (UKCI) gaan ’n nuwe fonds van R1 miljard stig om in hernieubare-energieprojekte in Suid-Afrika en in die res van Afrika suid van die Sahara te belê.

Die fonds, Revego Africa Energy, sal in die eerste helfte van vanjaar mik om op die JSE te noteer. Revego mik om teen notering sowat R2 miljard se kapitaal te hê en verwag om aansienlike belangstelling van institusionele beleggers te kry. ’n Groeiende aantal beleggers dring toenemend daarop aan om in ’n volhoubare en omgewingsvriendelike ondernemings te belê.

UKCI is ’n gesamentlike onderneming tussen die Britse regering se departement van sake, energie en nywerheidstrategie en die Green Investment Group. Die Green Investment Group is op sy beurt deel van die Macquarie-bankgroep. UKCI het ’n aanvanklike beleggingsprogram van £200 miljoen wat hy in Indië en Afrika suid van die Sahara moet belê.

UKCI en Investec dra elkeen in gelyke dele by tot die eerste R1 miljard van Revego, dit wil sê UKCI belê R500 miljoen en Investec die ander R500 miljoen. Hulle sal dien as ankerbeleggers van die fonds. Revego Fund Managers is ’n nuwe swartbeheerde fondsbestuurder wat die beleggings sal bestuur.

Mike Meeser, beleggingshoof van Revego Fund Managers, sê hulle sien ’n groot mark vir hernieubare energie in Afrika suid van die Sahara, waar sowat 600 miljoen mense nog nie toegang tot betroubare elektrisiteit het nie.

Revego sal fokus op ekwiteitbelegging in groenkragprojekte sodat die aanvanklike ontwikkelaars en beleggers verder in elektrifisering kan belê. Dit sal beleggers in Revego van ’n stabiele langtermyn-beleggingsopbrengs voorsien, sê Meeser in ’n verklaring.

Lourens van Rensburg, hoof van Investec se korporatiewe en institusionele bank-afdeling in Suid-Afrika, sê die notering van Revego op die JSE sal die beleggingsgemeenskap toegang gee tot ’n aandeelbelegging in die hernieubare-energiesektor.

Tot dusver was dit moeilik vir beleggers om toegang tot dié bedryf te kry.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer