Bekende wildveearts in veldbrand beseer

Twee mense is beseer is die veldbrande wat sedert Sondag aan die noordelike en westelike buitewyke van Windhoek woed, waarvan een se brandwonde ernstig is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die bekende wildveearts dr. Ulf Tubbesing (62) word in ’n private hospitaal in Windhoek vir brandwonde aan sy bene, gesig en regterhand en -arm behandel nadat hy Sondag deur vlamme oorval is terwyl hy ’n veldbrand op sy kleinhoewe by Brakwater bestry het.
Tubbesing het gister uit sy hospitaalbed in Mediclinic vertel hy het geval toe die vlamme gedraai en in die rigting van die voertuie (van die brandbestryders) begin brand het.
Hy het hom daarheen probeer haas, maar het in die proses geval. Hy sê die vermoede is dat sy bloeddruk weens medikasie wat hy gebruik, gedaal het en hy daarom sy balans verloor het.
“Die veldbrand het op een van die kleinhoewes ontstaan en teen die tyd toe dit by my grond kom, was dit buite beheer. Hoewel ons nie strukturele skade gely het nie, het ’n redelike groot gedeelte van die plaas afgebrand,” sê hy oor die skade aan sy kleinhoewe van 1 400 hektaar.
Volgens Tubbesing sal hy veloorplantings moet ondergaan.
Mnr. Sean Naudé van Namibia Marshall Rangers (NMR) sê hy het Sondagoggend ’n oproep gekry dat veldbrande by Brakwater-Noord opgemerk is.
“Ek het die brandweer gebel en toe ons naby Youth with a Mission se terrein kom, het die veldbrand reeds oor twee koppe gespring. Die wind was sterk en die brand het vinnig deur die kleinhoewes versprei,” vertel hy.
Hy sê NMR het ’n ambulans op bystand gehad en kon eerstehulp aan Tubbesing verleen, waarna hy na Mediclinic geneem is.
Die veldbrand het van daar na Nubuamis versprei en Maandag moes die spanne brandbestryders bontstaan toe groot dele veld by Monte Christo en Ongos afgebrand het.
Teen laat gister het die veldbrand reeds dig teenaan die Daan Viljoen-wildtuin gewoed.
“Troppe wild soos blouwildebeeste het by ons verby gehardloop terwyl ons vuur geslaan het.
“Van die Brakwater-mense het ook vertel hoe troppe koedoes voor die vlamme gevlug en oor hul kleinhoewes gehardloop het,” sê Naudé.
Tubbesing se boodskap gister was dat boere en kleinhoewe-eienaars veldbrande betyds moet aanmeld en hulp ontbied.
“Die koeël was Sondag reeds deur die kerk toe ons ingelig is en geroep is om te help. Verder moet die ouer mans liewer die logistieke bestuur hanteer en die jonger mans instuur om die brand te bestry,” sê hy.
Naudé waarsku as daar so baie gras soos nou is en die wind waai sterk, “hardloop die vuur vinnig”.
“Benewens die voorval met dr. Tubbesing Sondag, is een van die brandweervroue Maandag ook beseer en moes op die toneel vir brandwonde behandel word.”
[email protected]

FOTO’s
Hier is Windhoek se brandweer Sondag besig om die veldbrand in die Brakwater-omgewing te bestry. Foto verskaf

Die bekende wildveearts, dr. Ulf Tubbesing, hier aan die werk saam met sy assistent, me. Mariska Bijsterbosch. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer