Bejaardes se Projek Hysbak kort hupstoot
Tanja Bause - Bejaardes van die Auas Hills-aftreeoord in Windhoek het besluit om moue op te rol en self geld vir ’n hysbak by die oord in te samel.
“’n Hysbak word dringend benodig sodat bejaardes van die een blok die gemeenskapsaal kan bereik, en bejaardes van die ander drie blokke die biblioteek, haarsalon, apteek en restaurant kan bereik.
“Daar is 25 trappe wat geklim moet word om by dié geriewe uit te kom. Elke Sondag word kerk in die gemeenskapsaal gehou en van ons mense kan dit nie bywoon nie,” sê me. Trix Cilliers (65) van die oord se sosiale komitee.
Die drie blokke bestaan uit 144 enkel- en dubbelkamers en die kommunale blok bestaan uit 118 kamers.
In Februarie 2017 is Projek Hysbak deur die sosiale komitee van stapel gestuur en teen Februarie 2019 is N$135 000 ingesamel.
Die sosiale komitee het ’n bykomende N$5 000 bygevoeg om die totale bedrag op N$140 000 te staan te laat kom.
Volgens me. Elsabe Steenkamp (68), ook ’n komiteelid, het die bejaardes onder meer pannekoek verkoop en markdae gereël om geld in te samel.
“Ons het enigiets gedoen om geld in te samel, maar toe ek sien ons het ná drie jaar slegs N$140 000 in die bank, het ek besef dit gaan te lank vat om die nodige N$600 000 in te samel wat die hysbak gaan kos,” sê Cilliers.
Die komitee het besluit om Pupkewitz Haval te nader om ’n lootjietrekking te hou waarin ’n voertuig gewen kan word.
“Hulle was baie behulpsaam en het ’n voertuig aan ons verkoop en die lootjiekaartjies geskenk. Ná ons die voertuig afbetaal het, staan Projek Hysbak nou op N$240 000,” sê sy.
“Ons kan sit en vingers wys en kla ons het nie toegang tot die geriewe nie, of ons kan iets daaraan probeer doen. Dit is wat ons besluit het en ons het gewerk en gewoeker, maar ons benodig tog hulp van mense van buite af. Daar kort nog baie geld en ons sal bly werk, maar intussen raak ons al ouer,” sê mnr. Herman Steyn (81).
Bejaardes kan die betrokke geriewe met moeite met ’n ompad bereik, maar loop die risiko om te val omdat dié pad ’n steil motoroprit behels.
Veral mense in rolstoele of met looprame sukkel.
“Ek kan met my rolstoel omry, maar dit is baie styl en ek is bang ek val, soos ’n tannie onlangs gedoen het. Nou bly ek maar, soos baie van die ander bejaardes, eenvoudig in my huis. Ek mis die geselligheid en kerk en as niemand vir my kom kuier nie is ek maar eensaam,” sê mnr. Nico Koen (62).
“Ons het regtig van ons kant af probeer om geld in te samel. Van ons sosialekomiteelede staan soggens douvoordag op om pannekoekdeeg aan te maak, dan staan hulle die hele dag en bak – net om geld in te samel. Ons bejaardes sal dankbaar wees vir enige bydra van mense wat wil en kan help,” sê Steenkamp.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie