Bejaarde wag maande op heupoperasie
Bejaarde wag maande op heupoperasie

Bejaarde wag maande op heupoperasie

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Nege maande nadat 'n bejaarde vrou van die kus haar heup tydens 'n val gebreek het, het sy steeds nie 'n heupvervanging gehad nie. Die 72-jarige me. Lucy Jooste is 'n pensioenaris van Walvisbaai en het haar heup in Junie verlede jaar gebreek toe sy by 'n trap wou opklim.

“Ek het al nagte omgehuil, dit is verskriklik swaar,” het Jooste gesê wat in konstante pyn verkeer. Volgens Jooste het sy en haar man nie die finansiële ondersteuning om self vir die heupvervanging te betaal nie.

Volgens Jooste is sy aanvanklik na die staatshospitaal op Walvisbaai waar X-strale geneem is. Sy is hierna per ambulans na Windhoek geneem waar sy in die Sentrale Hospitaal opgeneem sou word.

“Die ambulans het eers 13:00 met ons vertrek, want hulle moes wag vir 'n ambulans van iewers. Op Usakos is nog mense opgelaai.”

Jooste sê die ambulans het in die donker by Katutura-staatshospitaal gestop.

“Die ambulansbestuurder het gesê dié wat by 'n ander plek moet wees, moet maar self daar kom, want dit is laat en hy het nog baie werk.”

Sy vertel met haar opname in dié hospitaal is haar been met “bande vasgedraai” en is nog X-strale geneem. Jooste het glo geen medikasie vir pyn ontvang nie.



'KOM ELKE DRIE MAANDE'

“Die klokkie vir hulp sit hoog teen die muur en was buite my bereik. Ek is totaal deur personeel geïgnoreer en my man mag my ook nie besoek het nie.”

Jooste was vir 'n week in die hospitaal totdat haar skoondogter haar op eie risiko uitgeboek het.

Sy en haar man het teruggekeer Walvisbaai toe en op 29 Januarie het sy weer by die Sentrale Hospitaal vir hulp aangeklop. Hier het sy vir die eerste keer pynmedikasie asook antibiotika van “vriendelike en hulpvaardige personeel” ontvang.

“Ons is nie in 'n posisie om vir die operasie te betaal nie. Ek en my man is pensioenarisse en het geen ander bron van inkomste nie.”

Jooste sê sy is aangesê om “elke drie maande te probeer terugkeer” totdat sy geholpe kan raak.

Die mediese superintendent van die Windhoek Sentrale Hospitaal, dr. David Uirab, het by navraag gesê hy sal Jooste se geval opvolg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer