Bejaarde skuldig aan verkragting van kinders
Bejaarde skuldig aan verkragting van kinders

Bejaarde skuldig aan verkragting van kinders

’n Uitdrukkinglose Dragan Vujicin het gister in die hofbank gestaan en luister na die landdros se twee uur lange uitspraak.
Erwin Leuschner – Die 68-jarige Dragan Vujicin van Swakopmund is gister skuldig bevind aan sewe klagte van verkragting en vier klagte van kinderhandel, nadat hy vyf jaar gelede vier minderjarige meisies tussen die ouderdomme van sewe en nege jaar seksueel misbruik het.

Hy sal eersdaags in die landdroshof op die kusdorp gevonnis word.

‘n Uitdrukkinglose Vujicin het gister in die hofbank gestaan en luister na landdros Gaynor Poulton se uitspraak van twee uur.

“Jy het hierdie jong meisies gehuisves met die doel om hulle seksueel uit te buit,” het Poulton gesê.

Vujicin, wat ten tyde van die oortredings 63 jaar oud was, is in Maart 2014 in Swakopmund in hegtenis geneem. In haar uitspraak het Poulton verklarings van getuies in die hof voorgelees.

Hiervolgens het Vujicin ‘n woonstel saam met sy vrou en twee kinders in die Mondesa-woonbuurt gehuur. Op dieselfde eiendom het ander huurders in sinkhuise gewoon, wie se kinders almal gereeld saamgespeel het. Volgens die verklarings van die kinders het hulle Vujicin gereeld in sy huis besoek om óf sy kamer skoon te maak of die skottelgoed te was.

Tydens van die geleenthede het hy na ‘n pornofliek gekyk en was hy gewoonlik kaal en was sy geslagsdele slegs met ‘n handdoek bedek.

“Dit was bekend dat hy ‘n baie goeie verhouding met die kinders en hulle met hom gehad het,” het Poulton gesê.

Volgens sy eie weergawe het Vujicin die slagoffers bederf omdat hulle “baie arm” was. Hy het roomys, lekkergoed, Brötchen en ook kleingeld aan die kinders gegee.

In ruil daarvoor moes die vier kinders hom bevredig. Dit het verskeie kere tussen 2013 en 2014 plaasgevind.

Ná elke “besoek” het hy die vier minderjarige meisies vergoed, soms met N$2 elk. Na bewering het seksuele omgang nooit plaasgevind nie.

Die voorvalle het op die lappe gekom nadat die ouers van die kinders ‘n gesprek tussen hulle gehoor het.

Een van die meisies het volgens getuienis gesê: “Kom ons pomp die oom vir geld.”

Die ouers het daarna ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak en Vujicin is in hegtenis geneem.

Ná byna vyf jaar, verskeie verklarings van getuies, insluitende dié van ‘n sielkundige en die vier slagoffers, is Vujicin gister skuldig bevind en sy borgtog van N$5 000 teruggetrek.

Die saak is tot 15 Februarie uitgestel om aan die aanklaer mnr. Dalon Quickfall en die prokureur mnr. Mpokiseng Dube geleentheid vir slotbetoë te gee. Die vonnis sal daarná volg.

Tydens die verhoor het Vujicin die klagte teen hom ontken en beweer die slagoffers se ouers het dit opgemaak, want hulle was “jaloers omdat hy met ‘n swart vrou getroud was”.

Landdros Poulton het sy weergawe egter as ‘n leuen afgemaak.

Vujicin is na bewering ’n herhaalde oortreder nadat hy glo ook sy stiefdogter, me. Lucy Witts, meer as 30 jaar gelede as ‘n minderjarige verkrag het. In die dokumentêre fliek, Dragan’s Lair, wat deur Witts vervaardig is, het dié aantygings na vore gekom.

Dit is in Oktober 2017 vrygestel en hierin konfronteer Witts Vujicin oor die beweerde misbruik.

“In die begin het ek met jou ma uitgegaan, later met jou,” sê Vujicin.

“Ek wou jou my vrou maak.”

Vujicin beweer ook in die dokumentêr hy het nooit nóg ‘n verhouding gehad soos dié wat hy met sy stiefdogter gehad het nie.

Witts beweer Vujicin het haar tussen die ouderdomme van twee en twaalf seksueel misbruik.

Aan die einde van die dokumentêr sê Vujicin: “Geregtigheid moet seëvier, anders is daar nooit ‘n einde aan die storie nie. Ek moet ophou van my skaduwee weghardloop.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer