Begroting wu00e9u00e9r uitgestel
Begroting wu00e9u00e9r uitgestel

Begroting wéér uitgestel

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Namibiërs sal waarskynlik tot amper maandeinde vir die nuwe minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, se begrotingsplanne midde die voortslepende resessie en die Covid-19-aanslag moet wag.

Die land is nou reeds sowat ses weke sonder ‘n begroting – die nuwe fiskale jaar het op 1 April begin.

Die ministerie van finansies het 19 Mei aanvanklik as begrotingsdag geteiken. Die ministerie se hoof van openbare betrekkinge, mnr. Tonateni Shidhudhu, het gister egter bevestig die 2020-’21-begroting sal nie Dinsdag in die parlement ter tafel gelê word nie.

“Ons het vandag ‘n brief aan die speaker [van die parlement] geskryf en ‘n nuwe datum voorgestel. Ons moet wag om verder daaroor te beraadslaag sodra die speaker die brief ontvang het,” het Shidhudhu gister aan Republikein gesê.

Shiimi span tans ‘n afdeling van die Staatsfinansieringwet in om die staat se geldwiele aan die rol te hou. Dit bepaal dat die regering tot ‘n derde van die vorige jaar se begroting mag bestee.

Die halfjaarbegrotingshersiening wat in Oktober deur die vorige minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, ingedien is, het totale besteding vir 2019-’20 op bykans N$66,6 miljard beraam.

Die regering het dus sowat N$22 miljard tot sy beskikking tot die nuwe begroting ter tafel gelê word.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer