Begroting briek bou van skole

Meer onderwysers, minder klaskamers

09 November 2018 | Ministeries
Jo-Maré Duddy - Die Mix- informele nedersetting is een van 10 gemeenskappe landswyd waar die regering se laerskoolprojekte in 2018-’19 met baie minder geld moet klaarkom ná N$1,79 miljard in die halfjaar-hersieningsbegroting van totale ontwikkelingsbesteding na verhoogde bedryfsuitgawes verskuif is.

In totaal is die ontwikkelingsbegroting van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur nou sowat N$142,9 miljoen armer en word 27 projekte geraak. Die ministerie se totale hersiene ontwikkelingsbegroting vir 2018-’19 beloop bykans N$516,9 miljoen.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het in sy toespraak tydens die indiening van die halfjaar-begrotingshersiening verlede maand gesê bykans N$236,9 miljoen meer word aan onderwys toegeken om meer onderwysers aan te stel en die nuwe kurrikulum te implementeer. Die hersiene begroting toon die ministerie se totale salarisrol word nou op sowat N$11,1 miljard geraam – N$379 miljoen meer as in die hoofbegroting.

Laerskole

Sowat N$89,5 miljoen in totaal is in die hoofbegroting in Maart aan laerskoolprojekte toegeken. Schlettwein het dié bedrag in totaal met ongeveer N$67,8 miljoen of 24% gesny.

Nie alle projekte in die ontwikkelingsbegroting word in die fynste besonderhede beskryf nie, maar volgens beskikbare inligting gaan sewe van dié beplande laerskole ‘n heenkome aan minstens 5 000 kinders bied.

‘n Begrote N$10 miljoen was aanvanklik vir ‘n laerskool met 23 klaskamers vir 800 kinders op Sauyemwa naby Rundu beskikbaar. Luidens die ontwikkelingsbegroting in Maart is klaskamers in dié streek oorvol en maak hulle van ‘n peletonstelsel gebruik – kinders gaan in die oggend en middag skool om almal in ‘n beperkte aantal klaskamers te huisves.

Die oprigting van die nuwe skool sal verligting bring, staan in die begroting. Bouwerk moes vanjaar begin, maar daar is nou net N$2 miljoen in die begroting oor.

In Windhoek is die begroting vir die laerskool in Havana, waar konstruksie vir vanjaar beplan is, met sowat 48% verminder. Dít ondanks die begroting wat lui dié informele nedersetting “groei van dag tot dag”.

Ander laerskoolprojekte in die gedrang is op Otavi, Bravel in Kavango-Wes, Opuwo, die Hardapskema, Oshakati, Otjiwarongo (Tsaraxa-aibes) en Ehangano in Oshikoto.

Volgens die begroting behoort bouwerk aan al dié skole in 2021 en 2022 afgehandel te wees.

Hoërskole

Bouwerk was ook veronderstel om vanjaar aan die hoërskool in Havana te begin, maar dié begroting is met N$13 miljoen gesny. In 2018-’19 sal die projek met N$5 miljoen moet klaarkom.

Die begroting gee 2012 as die begindatum vir die hoërskoolprojek in Havana aan. Altesaam 32 klaskamers word onder meer beplan en die skool sal 1 120 leerlinge kan huisves. Die skool is veronderstel om teen 2022 voltooi te wees.

In totaal het die begrotings van vyf hoërskoolprojekte landswyd in die slag gebly.

Die hele begroting van N$6 miljoen vir die bou van die Vision Sekondêre Skool op Epembe in Ohangwena is geskrap. Tenders moes vanjaar toegeken word en bouwerk moes begin. Dié skool maak voorsiening vir 1 300 leerlinge en 30 klaskamers.

Bouwerk aan die tweede fase van die Rukonga Vision School naby Mukwe in Kavango-Oos sou vanjaar begin. Van die oorspronklike begroting van N$5 miljoen vir 2018-’19 is egter net N$1 miljoen oor.

Altesaam N$8 miljoen sou aanvanklik aan die opknapping van die Mureti Sekondêre Skool op Opuwo bestee word – onder meer aan ‘n koshuis en ’n rioolstelsel.

Slegs N$2,8 miljoen is nou beskikbaar.

Die Oshikunde Sekondêre Skool op Omundaungilo in Ohangwena het N$10 miljoen vir opgradering en uitbreidings gehad. Dít sluit die tweede fase van twee koshuisblokke in. Dié begroting is nou meer as N$7 miljoen minder en staan op sowat N$3 miljoen.

Die begrotings van twee gekombineerde skole is ook gesnoei – op Ongwediva en Katima Mulilo. Op Katima Mulilo moes tenders toegeken word en bouwerk aan 30 klaskamers vir dié skool vir 1 200 leerlinge moes begin.

Uit die N$6 miljoen wat aanvanklik hiervoor begroot is, het net N$1,5 miljoen oorgebly.

Die Dagbreek Spesiale Skool in Windhoek se begroting is met die helfte tot N$1 miljoen verminder.

Soortgelyk

 

Polisie konfiskeer kerk se luidsprekers in Oshakati

2 ure gelede | Plaaslik

Die polisie het luidsprekers wat aan die New Jerusalem Ministry in Oshakati se informele nedersetting Oneshila behoort, vandeesweek ná klagtes van rusverstoring gekonfiskeer.Volgens inspekteur Thomas...

Olifante beskadig optiese kabels naby Khorixas

3 ure gelede | Plaaslik

‘n Trop olifante het inwoners in die Noorde van die land sonder landlyn- en selfoonverbinding gelaat, nadat die optiese kabel tussen Omatjete en Khorixas Donderdagmiddag...

Skietklub lê weer aan

5 ure gelede | Howe

Denver Kisting - Mnr. Norman Tjombe, die regsverteenwoordiger van die Rehoboth-skietklub, het vanoggend (Vrydag) bevestig sake is terug na normaal.Dít kom nadat die Namibiese weermag...

'Boere se veglus verdwyn'

15 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer en Elvira Hattingh - Twee bekende boere van die Suide sê die droogte het boere op hul knieë.“Ek was gister by ’n veiling...

Egpaar herontdek skaars plantjie

15 ure gelede | Omgewing

Denver Kisting – ’n Dekaan by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), dr. Rolf Becker, en sy vrou, me. Alma Moller, het verlede...

Kalender 18 Januarie

15 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots Unam se beeldende kunste-uitstalling vir 2018 aan. Dié uitstalling is tans...

'DRK maak staat op ons'

15 ure gelede | Politiek

Inwoners van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) maak staat op lande deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om die land weer op die...

Operasie Hornkranz: Meer misdaad aangemeld

15 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig Die Namibiese polisie het Woensdag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Olympia terugvoering gegee aan die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, en die...

Weer vir 18 Januarie

15 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die //Kharasstreek, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde donderbuie in...