Begin dink soos u2018n megaboer
Begin dink soos u2018n megaboer

Begin dink soos ‘n megaboer

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Moderne boere moet totaal anders oor boerdery dink. Kwessies soos grondhervorming moet nie as ‘n groter risiko as byvoorbeeld inflasie of toegang tot markte beskou word nie en kan selfs tot jou voordeel gebruik word.
Dr. Piet Croucamp, aanbieder van die televisieprogram Megaboere op kykNET, het produsente Donderdag 8 Oktober tydens die 69ste jaarlikse Namibië Landbou-unie se kongres toegespreek oor hoe die top 20% suksesvolste boere in Suid-Afrika dink en wat ander daaruit kan leer.
Croucamp is ‘n gebore Namibiër en is tans ‘n dosent aan die Universiteit van Johannesburg. Hy beskik oor ‘n doktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat en doseer reeds sedert 1994.
“Die idee met Megaboere was om ‘n program oor groot boere in Suid-Afrika te maak. Ek stel nie belang om van plaas tot plaas te ry en groot landerye en duisende skape af te neem nie, maar is meer geïnteresseerd in hoe hierdie mense dink. Wat maak dat hulle onder die 20% beste boere in Suid-Afrika tel?” sê hy.
Croucamp sê kykNET neem tans nog 13 episodes vir die Megaboer-reeks op, wat vanaf 12 Januarie uitgesaai sal word.


Suid-Afrika word nie Zimbabwe
“Die mense in Suid-Afrika beny Namibiërs hul beleidsbestendigheid en jul goeie verhouding met die regering. Baie van hulle sal enige iets gee om in Namibië te kom boer, want daar is dit ‘oorlog’ tussen die regering en boere. Dis ‘n baie ongemaklike situasie.
“In Suid-Afrika heers daar ‘n groot vrees dat ons ‘‘n Zimbabwe’ sal word. Mense sê dis net ‘n kwessie van tyd.
“Wat ek altyd sê, toe dit nog goed met Zimbabwe gegaan het en hul toerisme-sektor sterk was, was hul hele ekonomie so groot soos die van Durban. Dit is nie eintlik ’n vergelykbare model met Suid-Afrika nie. Boonop bly 64% van Zimbabwiërs in landelike gebiede, terwyl 64% Suid-Afrikaners in stedelike gebiede woon.
“Ons is nie op pad na daardie scenario nie. Miskien moet ons ‘n kopskuif maak en op ‘n ander manier dink,” sê Croucamp.


Pas aan by veranderende omstandighede
Hy het verwys na Charles Darwin wat gesê het dat dit nie die slimste of sterkste spesie is wat in die wêreld oorleef nie, maar die een wat die beste by veranderende omstandighede kan aanpas. Volgens Croucamp tel megaboere onder dié wat die heel beste by veranderende omstandighede aanpas.
“As jy mooi oor landbou in Suid-Afrika dink: Verbeel jou ‘n subpopulasie – mense wat van Europa gekom het en hulself in Afrika kom vestig het – het mettertyd, oor ‘n tydperk van 300 jaar, ‘n relatiewe dominante politieke en ekonomiese posisie ingeneem. Soveel só dat sou ons die res van die Afrika-kontinent ook op die trant kon plaas, ons kontinent sou floreer het.
“Gegewe die omstandighede waarvandaan hulle gekom het en waar hulle hulself eindelik geplaas het, het hulle ‘n ontsaglike vermoë gehad om hulself by omstandighede aan te pas. Dit geld nie net vir die top 20% boere nie, maar dit geld vir die hele Suid-Afrika,” sê Croucamp.


Landbou deïndustrialiseer
Croucamp meen dié vaardighede moet ook nou in die landbousektor toegepas word. In Suid-Afrika is elke ander sektor besig om te deïndustrialiseer – die mynbedryf, die tegnologie-bedryf en die vervaardigingsektor. ‘n Paar jaar gelede het laasgenoemde sowat 22% van die ekonomie gevorm, maar dit staan nou op slegs 8%.
“Daar is net een sektor in Suid-Afrika wat industrialiseer – die landboubedryf. Hulle meganiseer tot op ‘n bepaalde vlak en dan industrialiseer hulle.
“Dit is die interessante ding van die land se top 20% boere – nie net gaan hulle deur die normale proses van industrialisering nie, (wat betekend hulle meganiseer deur meer doeltreffende boerdery toerusting aan te skaf nie), maar hulle voer tegnologie op ‘n massiewe skaal in.
“Hulle industrialiseer nie net in terme van ou ekonomiese beginsels nie, maar ook in terme van nuwe beginsels. Die nuwe norm gaan daaroor om iets van tegnologie te maak,” sê Croucamp.
“Van die boere sal vir jou sê: Sien jy hierdie wonderlike trekker – of die spuit? Hy kos my N$2 miljoen, maar die belangrikste ding van die hele masjien is sy GPS op die dak. Dis hoe ek koste bespaar en meer doeltreffend boer.
“Die invoer van tegnologie in meganisasie is dus nie dieselfde ding nie en megaboere tref dié onderskeid,” sê Croucamp.


Grondhervorming lei nie tot minder boere
Volgens Croucamp word moderne boer gekonfronteer met ‘n baie komplekse politieke dinamika – alhoewel dit plaaslik moontlik nie méér kompleks as elders in die wêreld nie.
“Ons weet die grondkwessie is op almal se lippe, maar dit is nie op dié van die top 20% boere in Suid-Afrika nie. Vir hulle word grond in ‘n sekere mate ‘n kommoditeit en dit gaan nie meer om ‘n emosionele verknogtheid nie.
“Dit gaan nie meer oor die stories van familieplase, van die boer wat met sy breërandhoed in die landerye met sy ‘two-tone’ hemp en skurwe knieë en veldskoene stap nie, wat in die bloed en sweet van sy aanskyn sy brood en botter verdien nie. Die moderne boer is ‘n sakeman. Die top 20% van boere sien jy met sy aktetas in die hand deur sy landerye stap.
“Grondhervorming is vir hom nie meer ‘n groter risiko as die fluktuasies in die rand-dollar se waarde, inflasie of toegang tot markte nie. As hy ‘n indeks van risiko’s in Suid-Afrika opstel, is grondhervorming ‘n relatiewe bestendige risiko,” sê Croucamp.
“Die meeste klein boere op familieplase is bekommerd oor grondhervorming. Oor die afgelope twintig jaar, as daar egter ‘n klop aan die boer se deur was, was dit nie die regering nie, maar die buurman wat jou plaas wil koop.
“Hy is die grootste vyand van die familieplaas in Suid-Afrika. Die rede hoekom die aantal boere in Suid-Afrika van 100 000 verminder het na net sowat 40 000 vandag, het bykans niks met grondhervorming te doen nie.
“Ons het nog nie ‘n duim prysgegee in terme van beleid nie. Al die dinamika wat verander het, was as gevolg van ekonomiese beginsels,” sê Croucamp.
Croucamp sê ook, wat die gemiddelde familieplaas betref, verdien jy net sowat N$350 000 en N$500 000 per jaar netto wins – vir ‘n belegging van sowat N$10 miljoen tot N$15 miljoen.
“Dit is nie geld nie. Om die waarheid te sê, dit is nie sinvol om so min wins op soveel geld te maak nie, jy kan dit op baie ander plekke belê. As jy byvoorbeeld aan die begin van die jaar die geld na ‘n bank in Amerika oorgeplaas het, het jy nou 20% wins gemaak.
“Hoekom sal jy boer? Is dit omdat jy dit van jou pa geërf het? Jy gaan die pyn en lyding betaal, nie as gevolg van politiek nie, maar as gevolg van die ekonomiese werklikhede.
“Ek sê nie die familieplaas gaan uitsterf nie, maar is dit die moeite werd om dalk die N$10 miljoen met baie minder risiko’s elders te belê?”


Tye van onsekerheid?
“As jy vir megaboere vra hoe hulle hierdie tye van onsekerheid hanteer, antwoord hulle, watter tye van onsekerheid? Hulle sê as jy ‘’n sagte mannetjie’ is, is alle tye onseker.
“Hulle sê hulle verkies die onsekerheid, want dis juis dan wanneer hulle bepaalde vermoëns ontwikkel of kan gebruik.”
Croucamp vertel van ‘n onderhoud wat hy met ‘n megaboer by Ceres gevoer het. Die boer koop steeds meer grond en Croucamp het hom gevra of hy dan nie bang is vir grondhervorming nie.
“Hy sê toe nee, hy is ‘n bietjie soos ‘n Jood. In onsekere tye koop hy meer grond, want dan koop hy goedkoop. Hierdie boere het die vermoë ontwikkel om anders oor grond te dink.”


Arbeidsverhoudinge
Croucamp se een van die dinge waarvan boere nie kan ontsnap nie, is arbeidsverhoudinge.
“Die hoeveelheid politieke teenkanting wat boere hiervoor vat, is astronomies. Dis ‘n onbetaalbare prys. Jy moet egter anders hieroor dink, dan verander die verhouding tussen jou en jou arbeiders ook,” sê hy.
“Die persoon wat nou jou spuit bestuur, is dieselfde een wat twintig jaar gelede jou trekker op die landerye geploeg het. Die moderne trekker word met rekenaars beheer en die persoon bestuur nie werklik meer die trekker nie, dit word deur die rekenaar deur die land gestoot en sy vermoë om reguit te ry, is nou nie meer so belangrik nie. Sy vermoë om in beheer van N$2 miljoen se tegnologie te wees, is egter nou belangrik.
“Hy word nou ‘eksoties’ in die area waar hy funksioneer, sy arbeid kry waarde.”
Croucamp sê ‘n megaboer het aan hom vertel hoe hy twintig jaar gelede net geroep het hy soek ‘n trekkerdrywer en tien mense het nader gestap. “Vandag kyk egter hy wie die buurman se moderne trekker bestuur en probeer die man koop.”
Volgens Croucamp verander die verhouding met plaaswerkers totaal, hy word ‘n bestuurder op jou plaas wat beheer oor ‘n groot deel van jou bates het. Hy word ‘n bate en het vaardighede wat jy nodig het.
“Plaaswerkers word al minder en mense wat bepaalde bestuursfunksies verrig, neem hul plekke in. Die plaas word toenemend soos ‘n besigheid en word volgens gesonde sakebeginsels bestuur.
Arbeidsverhoudinge is van kritiese belang, nie omdat vakbonde op die plaas verteenwoordig word nie, maar omdat goeie verhoudinge die boer se produktiwiteit verhoog, sê Croucamp.
Hy vertel van nog ‘n boer met wie hy vir Megaboere ‘n onderhoud gevoer het, wat in plaas van ‘n jaarlikse bonus, aandele in die plaas aan sy plaaswerker gegee het.
“Ná een-en-twintig jaar, toe die werker moes aftree, kon hy kies wat hy met die aandele wou maak. As hy dit sou kapitaliseer, sou hy N$8 miljoen in sy sak kon steek. Die besigheid het oor die jare twaalf keer groter geraak.
“Dié werker is behandel soos iemand wat waarde tot die plaas toegevoeg het. Die 20% topboere ontwikkel ‘n totale ander verhouding met plaaswerkers.
“Ons moet verbied word om ‘plaaswerkers’ aan te hou. Soos in die mynbedryf, is dit ‘n werk wat geslag na geslag gedoen word – sosioëkonomiese arbeidsposisies waarin jy vir altyd vasgevang word. Jy sal oor geslagte heen daarin voort bly werk en nooit die geleentheid kry om bates bymekaar te maak nie,” sê Croucamp.
Volgens hom is bates die een ding wat dit vir mense moontlik maak om oor geslagte heen sosioëkonomies mobiel te wees en vorentoe in die lewe te beweeg, iets wat bogenoemde werkers nie het nie.
“Opleiding moet dit moontlik maak vir mense om in die dienstesektor te gaan werk, nie die regering wat beleide op jou afdwing om meer mense in diens te neem en meer ‘werk te skep’ nie.
“Jy ontwikkel jou besigheid totdat daar ‘n behoefte bestaan vir iemand om ‘n bepaalde funksie te vervul. As jy ‘werk skep’, beteken dit jy is besig om agteruit te boer. Jy skep ‘n behoefte wat nie bestaan nie en probeer dit vul met iemand wat nie werklik daar inpas nie.”


Honger vir risiko’s
Croucamp sê Megaboere se risiko-profiel lyk totaal anders.
“Hulle het ‘n ontsaglike behoefte daaraan om risiko’s te neem. Hulle vermoë om dit te bestuur, korrespondeer egter met die behoefte.
“Hulle is premier sakemanne en landbou is die lokomotief waardeur hulle die behoefte bevredig. Landbou word vir hulle priemer ‘n besigheid.”
Croucamp vertel voor die maak van die program, het die vervaardigers ‘n bank gekonsulteer om van Suid-afrika se suksesvolste boere te identifiseer. Die bank kon minstens die name van 36 boere verskaf wat ‘n jaarlikse omset van tussen N$400 miljoen en N$4 miljard het. Nog ‘n bank kon die name van omtrent netsoveel ander boere gee.
“Baie van die mense handhaaf ‘n baie lae profiel, maar hulle almal het ‘n besondere manier van dink. Baie sê Suid-Afrika is ‘n onbestendige plek, maar hoe meer onbestendig dit word, hoe meer kan die boere dit só bewerk om ‘n bepaalde voordeel vir hulself te bewerkstellig,” sê Croucamp.


Onbestendigheid tot hul voordeel gebruik
Croucamp vertel van nog ‘n boer wat grond teen ‘n rivier gehad het, maar reeds vir ses jaar lank vir goedkeuring op sy aansoek om waterregte van die regering wag.
“Hy het 42 kleurlingvroue wat vir hom werk, genader en gesê as hulle waterregte kan kry, sal hy die grond en implemente verskaf en dan plant hulle wingerde. Dit sou daarop neerkom dat die boer dan 50% van die waterregte besit en die vroue 50% van die grond.
“Die vroue kon binne dae die waterregte kry. Die boer het dit so bewerk dat die plaas en alle ander onkoste binne vier en ‘n half jaar afbetaal sou wees. Binne vyf jaar sal die vroue substansieel verryk wees. As hulle die dag aftree, sal hulle almal welaf wees,” vertel Croucamp.
“Dis die manier hoe megaboere grondhervorming bestuur. Vir hulle is dit net nog ‘n veranderlike in ‘n komplekse som, maar ook ‘n geleentheid om jou besigheid uit te brei. Hulle maak geld deur self verantwoordelikheid vir grondhervorming en swart bemagtiging te aanvaar,” sê Croucamp.
“Ek het ‘n informele som gaan maak van swartbemagtigingsprojekte waarvan ek weet, wat suksesvol deur die private sektor bedryf word en waar wel ‘n oordrag van kapitaal en bates is. Dit verdwerg die aktiwiteite van die staat.”


Bestuur grondhervorming self
“Megaboere redeneer nie slegs kan hulle dié veranderlike bestuur nie, maar kan hulle vir hulself ‘n ekonomiese voordeel beding deur op swart bemagtiging en grondhervorming in te koop. Hulle weet as hulle self beheer neem, kan hulle dit ook bestuur.”
Croucamp sê ‘n boer se lewe maak eintlik net sin as hy die mark tot voordeel van almal benut. “Megaboere wil in die samelewing inkoop – want as jou mark arm is, wie gaan dit koop wat jy vervaardig?
“Hulle wil hê jy moet welvarend wees en dat daar ‘n groeiende swart middelklas moet wees. Daardeur skep hulle hul eie mark sodat hulle hul produkte kan verkoop.
“As grondhervorming in Suid-Afrika ‘n sukses gaan wees, gaan dit wees oor die mate waarin boere in die proses inkoop en dit self begin bestuur. Daar is niks so wonderlik as om verantwoordelikheid vir jou eie risiko’s te aanvaar nie. As jy dit nie doen nie, gaan die regering of iemand anders dit tot jou nadeel doen.”
Croucamp het ook gesê dié tipe grondhervorming is meer suksesvol. “As jy dit doen soos die regering dit tans doen, sny jy die ‘koek’ net in kleiner en kleiner dele en neem jy die dryfveer weg vir die boer om te groei. Boonop is net 5% herbesette plase suksesvol.”


Institusionele geheue
Die belangrikste tekortkoming onder swart boere is dikwels ‘n tekort aan ‘n institusionele geheue – ‘n tipe kennis wat oor geslagte en jare heen opgegaar en geberg word.
“In elke sektor van die ekonomie is daar ‘n institusionele geheue. Dit is hoekom jy doeltreffend kan boer – dit kom reeds geslagte lank en jy bou die geheue oor tyd. Die megaboere het almal ‘n bepaalde institusionele geheue.
“In die 1990’s het die deure na ‘n internasionale mark vir Suid-Afrikaners oopgemaak en diegene wat goeie institusionele geheue oor geslagte heen opgebou het, het internasionale markte betree.
Die belangrike ding wat megaboere besef, is Suid-Afrika alleen is nie meer jou mark nie, maar die wêreld behoort aan jou.
“Soos wat die wêreld verander, word die spelreëls vir almal dieselfde. Dieselfde bestuursbeginsels en manier van dink is vaardig in al die dele van die wêreld. Op die manier kry hulle ‘n demografiese dividend.
“Suid-Afrika was byvoorbeeld oor die afgelope drie jaar die grootste uitvoerder van sitrusprodukte na Europa. Die sitrusboere dink groot,” sê Croucamp.


Verhoog doeltreffendheid met tegnologie
Croucamp sê boerderye word meer doeltreffend, werk al meer op sakebeginsels en die verskynsel van die historiese boer is besig om al meer te verdwyn.
“Tans het Suid-Afrika sowat 40 000 kommersiële boere. Oor twintig jaar sal daar moontlik net 20 000 oor wees wat aansienlik meer op aansienlik minder grond gaan produseer. Hulle gaan meer doeltreffend wees – niemand voer méér tegnologie in of verhoog die doeltreffendheid van hul besighede meer as megaboere in Suid-Afrika nie.
Volgens hom brei megaboere op verskillende maniere uit, maar dit behels oor die algemeen dat hulle grond koop en hul produktiwiteit verbeter.
“Jy kan jou besigheid horisontaal of vertikaal uitbrei. In hierdie stadium is die grootste doel om jou plaas meer doeltreffend te bestuur,” sê Croucamp.
Hy sê die melkprodusente in Suid-Afrika gee die toon aan wat meer doeltreffende bestuur betref. “Hulle hou stap vir stap tred met die nuutste ontwikkelinge in die wêreld. Onlangs is byvoorbeeld 22 ton mielies per hektaar in Suid-Afrika geoes. Oor tien jaar gaan dit die norm wees en dit gaan alles met die invoer van tegnologie te make hê,” sê Croucamp.
“As jy boer soos jou oupa geboer het, is jy in groot moeilikheid. As jy boer soos jou pa geboer het, moet jy senuagtig begin word.
“Jy moet bepaald anders dink. Landbou is op die oomblik die mees dinamiese sektor om in te wees en dit is nou ‘n baie interessante tyd om te boer. Ek sou by niks anders betrokke wou wees nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta Katima Mulilo: 13° | 33° Rundu: 14° | 33° Eenhana: 15° | 34° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 17° | 32° Otjiwarongo: 15° | 31° Omaruru: 19° | 33° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 16° | 30° Henties Bay: 15° | 18° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 10:06, High tide: 04:02, Low Tide: 22:18, High tide: 16:30 Swakopmund: 15° | 17° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 04:00, Low Tide: 22:16, High tide: 16:28 Walvis Bay: 15° | 21° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 03:59, Low Tide: 22:16, High tide: 16:27 Rehoboth: 18° | 30° Mariental: 22° | 32° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 12° | 22° Ariamsvlei: 16° | 31° Oranjemund: 10° | 18° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 14° | 29° Lubumbashi: 15° | 28° Mbabane: 14° | 30° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 11° | 22° Lilongwe: 16° | 27° Maputo: 17° | 31° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 13° | 16° Durban: 20° | 33° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 23° | 30° Lusaka: 15° | 28° Harare: 13° | 27° Currency: GBP to NAD 23.06 | EUR to NAD 19.86 | CNY to NAD 2.56 | USD to NAD 18.51 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.67 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.64 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.52 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.64 | USD to EGP 47.25 | USD to KES 130.98 | USD to NGN 1404.8 | USD to ZAR 18.51 | USD to ZMW 27.25 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 77177.44 Up +0.32% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1714.65 Down -0.07% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13418.67 Up +0.32% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 25988.93 Down -1.67% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 311.19/OZ UP +0.10% | Copper US$ 4.50/lb DOWN -0.0004 | Zinc US$ 2 899.10/T DOWN -0.42% | Brent Crude Oil US$ 84.85/BBP UP +0.67% | Platinum US$ 979.95/OZ UP +0.59% Sport results: Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta Weather: Katima Mulilo: 13° | 33° Rundu: 14° | 33° Eenhana: 15° | 34° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 17° | 32° Otjiwarongo: 15° | 31° Omaruru: 19° | 33° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 16° | 30° Henties Bay: 15° | 18° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 10:06, High tide: 04:02, Low Tide: 22:18, High tide: 16:30 Swakopmund: 15° | 17° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 04:00, Low Tide: 22:16, High tide: 16:28 Walvis Bay: 15° | 21° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 03:59, Low Tide: 22:16, High tide: 16:27 Rehoboth: 18° | 30° Mariental: 22° | 32° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 12° | 22° Ariamsvlei: 16° | 31° Oranjemund: 10° | 18° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 14° | 29° Lubumbashi: 15° | 28° Mbabane: 14° | 30° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 11° | 22° Lilongwe: 16° | 27° Maputo: 17° | 31° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 13° | 16° Durban: 20° | 33° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 23° | 30° Lusaka: 15° | 28° Harare: 13° | 27° Economic Indicators: Currency: GBP to NAD 23.06 | EUR to NAD 19.86 | CNY to NAD 2.56 | USD to NAD 18.51 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.67 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.64 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.52 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.64 | USD to EGP 47.25 | USD to KES 130.98 | USD to NGN 1404.8 | USD to ZAR 18.51 | USD to ZMW 27.25 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 77177.44 Up +0.32% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1714.65 Down -0.07% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13418.67 Up +0.32% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 25988.93 Down -1.67% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 311.19/OZ UP +0.10% | Copper US$ 4.50/lb DOWN -0.0004 | Zinc US$ 2 899.10/T DOWN -0.42% | Brent Crude Oil US$ 84.85/BBP UP +0.67% | Platinum US$ 979.95/OZ UP +0.59%