Beatrice (17) kwalifiseer vir Tokio
Die jong sensasie keer met 'n nasionale rekord uit Nairobi terug.
Tielman van Lill
Agri Kollege van Grootfontein se meisie met die goue voete, Beatrice Masilingi, het Saterdag in Nairobi, Kenia, by Wêreldatletiek se Goue senior byeenkoms die Namibiese nasionale vrouerekord in die 400 meter verpletter toe sy haar persoonlike beste tyd van 50.99 sekondes aangeteken het.
Tjipekapora Herunga het die vorige rekord (51.36) op 4 Mei 2012 in Pretoria by die Suid-Afrikaanse kampioenskap aangeteken. Herunga het by die 2012 Olimpiese Spele in Londen die semifinaal gehaal en het ook twee keer by die wêreldkampioenskap meegeding.
Masilingi se wentyd was 1.20 sekonde vinniger as haar persoonlike beste van 52.19 wat sy Maartmaand in Swakopmund behaal het. Dit plaas haar op Wêreldatletiek se ranglys in die nommer een posisie by die o.18- en o.20's en senior Afrika-vroue, asook vierde internasionaal vir die 2020-kalenderjaar.
Haar briljante tyd is ook goed genoeg om haar vir die 2021 Olimpiese Spele in Tokio te laat kwalifiseer. Die kwalifiserende merk vir Tokio staan op 51.35 sekondes.
Die Duitser, Grit Breuer, se o.20-wêreldrekord van 49.42 (27 Augustus 1991) wat sy as 19-jarige in Tokio opgestel het, is beslis nie veilig met Masilingi se meteoriese opgang nie.
Die o.18-wêreldrekord van Li Jing in 50.01 (China) het sy op 18 Oktober 1997 in China op 'n ouderdom van 17 jaar en 246 dae agter haar naam geskryf.
Kan Masilingi, wat nou 17 jaar en 173 dae is, dalk nog vanjaar Jing se rekord laat spat?
Die naelloper en mnr. Henk Botha, haar afrigter, het eers Donderdag die lang vlug na Nairobi aangepak en sy het dus maar bitter min tyd gehad om te akklimatiseer. Onder meer gunstige omstandighede kon sy beslis selfs verder onder 51 sekondes gedraai het.
Haar landgenoot Ivan Danny Geldenhuys (19) se vyfde plek in die 400 vir mans in 46.85 was ook glad nie te versmaai nie. Die gebore Windhoeker wat tans in Pretoria studeer, se visier is ingestel op Daniel Haitembu se senior nasionale rekord van 46.14 wat reeds vier dekades gelede op 26 April 1980 in Bloemfontein opgestel is. Geldenhuys het in Maart sy persoonlike beste (46.29) bereik.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie