Bayern Mu00fcnchen wen Kampioeneliga
Bayern Mu00fcnchen wen Kampioeneliga

Bayern München wen Kampioeneliga

Sokker
’n Doel in die tweede helfte deur Kingsley Coman met die kop het sy voormalige klub gesink toe Bayern München vir Paris Saint-Germain met 1-0 in die eindstryd van die Europese Kampioeneliga gewen het.
Met albei spanne wat nie dié seisoen geskroom het om doele aan te teken nie, was ’n opwindende wedstryd in Lissabon verwag.
Bayern München het al tien sy voorafgaande wedstryde in die kompetisie gewen en 42 doele aangeteken.
Op sy beurt het PSG in sy afgelope 34 wedstryde in dié toernooi elke keer doele aangeteken.
Die spelers het vir die eerste 15 minute gesukkel om aan die gang te kom met min wat kykers opgewonde sou maak.
Dit het Neymar geverg om bietjie lewe aan die wedstryd te gee toe hy ’n briljante aangee deur Kylian Mbappe ontvang en vir Manuel Neuer voor die doelhok getoets het. Sy poging was egter onsuksesvol.
Bayern het daarna byna dadelik teruggeslaan. Robert Lewandowski was vasbeslote om Cristiano Ronaldo se rekord van 17 doele in die kompetisie te jaag, maar sy poging het die doelhok se paal getref.
PSG het nog ’n kans verbrou toe Angel Di Maria van Argentinië die bal bo-oor die doelhok geskop het.
Lewandowski het nog ’n kans weggesmyt toe hy met sy kop die bal reguit in die hande van Keylor Navas ingeskiet het.
Die telling was rustyd gelykop met 0-0, maar Bayern het die indruk begin gee dat hy in beheer is.
Dié vermoede is ná 59 minute se spel bevestig toe Coman sy span die voortou laat neem het.
PSG kon daarna nooit weer na ’n hoër rat oorskakel nie. Die Franse span het die volgende halfuur net met ’n enkele noemenswaardige poging vorendag gekom.
Neuer het hom goed van sy taak gekwyt en het Marquinhos se poging gestuit.
Die frustrasie was duidelik op Neymar se gesig, maar dit was ook tevergeefs.
Bayern München het binne ’n leë stadion met die kunsmatige klank van toeskouers die trofee ’n sesde keer gewen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer