Basterkapteinstwis woed voort

Denver Kisting
Denver Kisting



Die stryd oor wie vir wyle mnr. John McNab van die Baster­gemeenskap moet opvolg, woed onverpoos voort.

Die kamp onder leiding van pastoor Martin Dentlinger het gister die bestaan van 'n twis by monde van hul voorsitter, apostel Nico Bock, ontken.

Volgens Bock is op 18 Oktober op 'n “vrywillige gemeenskapsvergadering” 'n volksraad verkies, waarná 'n kapteinsverkiesing toe glo gereël is.

“As gevolg hiervan het ons op Sondag 1 November weer eens ­bymekaar gekom en hierdie mense het vir hulle 'n leier gekies om hul belange te verteenwoordig – plaaslik, nasionaal en internasionaal.

“Op hierdie dag is pastoor Martin Dentlinger as waarnemende kaptein aanvaar soos aangestel en ­bekragtig deur die ontslape kaptein John McNab en die kapteinsraad op 22 September 2017.”

Boonop, sê Bock in 'n brief aan ­Republikein, “op hierdie dag het hierdie mense ooreengekom om 'n nuwe, private, Christelike gemeente­vereniging in ooreenstemming met vaderlike wette tot stand te bring om die voortbestaan van die oorspronk­like boedel van ons vaders deur hul erfgename en aangenome burgers te laat herleef.

“Op hierdie dag is alle aksies herroep wat geneem is deur enige persoon en wette wat gemaak is wat teenstrydig met die vaderlike wette was.”



ANDER KAMP

Bock mik ook 'n hou in die rigting van mnr. Barney Buys, die ander kamp se waarnemende kaptein.

“Mnr. Buys en sy kantoor het geen reg om mense te waarsku teen ander mense wat hul ­demokratiese regte uitvoer nie. Kaptein Martin ­Dentlinger is nie 'n opvolger van die ­ontslape kaptein McNab nie.”

Buys en kie is duidelik nie vertroud met demokratiese beginsels nie, sê Bock. “Dis baie duidelik uit hoofde van die koerantberig dat mnr. Buys en sy kantoor nie demokrasie ­verstaan nie. Ons is nie die eiendom van mnr. Buys en sy kantoor nie.

“Ons het die reg om ons eie leiers te kies en te besluit wie bekwaam genoeg is om as ons leiers te kwalifiseer. Ons gaan nie onnosele mense, kriminele of korrupte mense as ons leiers kies nie.”

Bock sê hulle hoop Buys-hulle sal hierby berus. “Ons hoop dat mnr. Buys en sy volgelinge dit kan verstaan en aanvaar.”

Buys was nie gister vir ­kommentaar beskikbaar nie.

Verlede week het die Rehoboth ­Bastergemeente, aan wie Buys na wat verneem word rapporteer, gesê dié liggaam het verneem “­misleidende en valse inligting” is oor McNab se opvolger in omloop.

Luidens hul skrywe is ­Dentlinger reeds in Oktober 2018 ingelig sy aanstelling as destydse ­tussentydse kaptein is met onmiddellike effek herroep. “Hierdie besluit is weer eens bevestig deur 'n resolusie van die kaptein en raad op 2 November 2018.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer