Baljaar vir eers gekniehalter
Baljaar vir eers gekniehalter

Baljaar vir eers gekniehalter

Netbal
Die MTC Premierliga van Netbal Namibië sal nog vir ’n onbepaalde tyd moet stilstaan.

Uitspeelwedstryde vir die premierliga moes vandeesmaand tussen elf streke plaasgevind het. Met die hernude en strenger Covid-19-maatreëls vir sportbyeenkomste is alle sportkodes egter opnuut in onsekerheid gedompel.

Netbal Namibië (NN) het verlede jaar ’n stewige handdruk van 4.2 miljoen Namibiese dollars van MTC ontvang. Dié steun stel NN in staat om netbal landwyd te ontwikkel en ’n broodnodige premierliga te bedryf.

In ’n onderhoud vandeesweek met me. Imelda Nerongo, die sekretaris-generaal van NN, het sy gesê mense se lewens is in gevaar en daarom is die premierliga en alle ander wedstryde vir eers opgeskort.

“Ons was veronderstel om op 6 Februarie die premierliga te loods, waarna spanne van oor die land heen aanstaande maand sou meeding. Die plan is egter nou gestaak om vir die volgende raadsvergadering later die maand te wag waar ons dié kompetisie se heil gaan bespreek. Ons sal moet besluit wat is die beste uitweg om plaaslike asook internasionale wedstryde aan te bied.

“Daar is ’n horde vereistes en die beperking dat net 50 mense by ’n wedstryd toegelaat word, maak dit onmoontlik maak om kompetisies van enige omvang aan te bied. Hoewel daar tans nie wedstryde gespeel word nie, is ons besig om die onderskeie streke te besoek om die reëlings van NN se algemene jaarvergadering af te handel.

“Ons is besig om streke se strukture in plek te kry sodat hul administrasie en bestuur op koers is,” het Nerongo die beheerliggaam se netelige posisie verduidelik.

Die premierliga sal uit 12 spanne van die 14 streke bestaan. Ses van die klubs sal van die Erongo-, Khomas- en Otjozondjupastreek kom. Dié ses klubs het outomaties vir die premierliga gekwalifiseer, terwyl die res met uitspeelwedstryde tussen die orige elf streke bepaal sal word. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer