Baie meer as miljard vir Air Nam nodig
Baie meer as miljard vir Air Nam nodig

Baie meer as miljard vir Air Nam nodig

Die nasionale redery gaan die Frankfurt-roete waarop hy groot verliese ly, laat vaar.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die N$984,6 miljoen wat in die nuwe boekjaar uit die belastingbetaler se sak na die nasionale redery gaan vloei, sal net “die onmiddellike operasionele koste dek”.

Die minister van staatsondernemings (SOE’s), mnr. Leon Jooste, het gister aan Republikein gesê die bykans N$1 miljard wat deur die nuwe finansminister, mnr. Iipumbu Shiimi, in die 2020-’21-boekjaar aan Air Namibia toegeken is, gaan niks meer as die redery se huidige operasionele koste dek nie. Dit maak nie voorsiening vir die implementering van die nuwe sakeplan wat die redery van bankrotskap moet red nie, sê hy.

Volgens die 2019-’20-begroting sou Air Namibia vanjaar net N$351,2 miljoen ontvang het.

Jooste het bevestig hy lê dié plan volgende week aan die kabinetskomitee vir tesourie voor.

Een van die groot sake-omwentelinge in die plan is om die langafstandroete na Frankfurt te laat vaar.

Jooste het in ’n vorige onderhoud aan Republikein gesê een van die oorwegings is om die uitstaande bedrag op die twee Airbus A330-200’s se verhuringskontrak aan die Amerikaanse vliegtuigverhuring- en finansieringsmaatskappy, Castlelake Aviation, te betaal en die vliegtuie dadelik daarna te verkoop.

Air Namibia is tans in jaar 7 van die 12 jaar-huurooreenkoms vir dié vliegtuie en dok maandeliks US$1,1 miljoen per vliegtuig op om die kontrak te eerbiedig. Teen die huidige wisselkoers is dit sowat N$40 miljoen per maand vir die twee vliegtuie.

Mnr. Elia Erastus, waarnemende besturende direkteur van Air Namibia, wou gister by navraag nie die begroting bespreek óf die sluier lig oor hoe die bestuur en direksie beoog om die redery van ondergang te red nie.

Hy het wel erken die verliese sedert die inperkingsmaatreëls begin het, beloop “meer as N$100 miljoen per maand”. “Ons bloei,” was sy woorde.

Op ’n vraag aan Jooste oor hoeveel geld nodig is om die sakeplan te implementeer, was sy antwoord: “Báie.” Hy wou egter nie die presiese bedrag openbaar nie.

Hy het verder gesê die sowat N$1 miljard wat Air Namibia vanjaar gaan kry, sal “skaars die bloeding stop”.

Mnr. Calle Schlettwein, vorige minister van finansies, het verlede jaar geen geheim daarvan gemaak dat hy Air Namibia se likwidering voorstaan nie. Hy het in ’n dokument waarin verskillende toekomsopsies uiteengesit is, gesê in die 20 jaar tussen 1999 en 2019 het die regering “’n onvolhoubare” N$8,3 miljard in die nasionale rederye gepomp.

Op ’n vraag aan Jooste of likwidering, met die totstandkoming van ’n nuwe maatskappy onmiddellik daarna, steeds oorweeg word, het hy gesê dit is nie in hierdie stadium deel van die sakeplan nie.

Só ’n sakereddingsplan word tans vir Suid-Afrika se nasionale redery, South African Airways (SAA), oorweeg.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer