Baba, peuter, pampoeneter
Baba, peuter, pampoeneter

Baba, peuter, pampoeneter

[email protected]
Yolanda Nel
“Ouboet, nee.” Kleinboet skree. Dit is die opsomming van hoe die afgelope vakansie in ons huis gegaan het.

“Hulle word peuters genoem, want hulle peuter aan alles,” sê die slim boeke. Die speseryrak is vier maal per dag uitgepak en herrankskik, maar grotendeels net op die kombuisvloer gelos.

’n Pot room waarvan die prop nie deeglik genoeg toegedraai is nie, is ’n uitnodiging vir ’n partytjie wat erger is as wanneer hulle in die modder speel. Gelukkig is die vitamien E-olie goed op die vel.

Gooi ’n baba in die mengels wat elke twee ure bietjie melk wil hê en net elke sewende dag ’n vuil doek gee met ’n harde gejuig, het ek soms net saam gehuil en vir Hammelie geroep om te kom help.

En dan word dit aand. Kleinboet gaan slaap eerste en dan is dit ouboet se beurt. Tande borsel, storie lees en melkies drink. Dan moet jy eers saam lê dat hy jóu arm kan streel. En as die twee woelwaters in droomland is, gaan sit ek mak met ’n warm beker tee op die bank. En ná die tweede sluk soek die kleintjie weer melk.

Veertien maande en ’n dag verskil hulle. Ierse tweelinge, word hulle genoem. Met kleinboet se opwagting het almal gesê ek kan hulle soos ’n tweeling grootmaak. Die wiskunde het toe reeds nie vir my lekker geklop nie. Maar laat ek julle mooi vertel, as een kan loop en die ander kan nie sy kop oplig nie, is hulle so ver van ’n tweeling af soos ek en my boetie wat vyf jaar verskil.

Die een maak solank voorbrand vir die ‘terrible twos’ en die ander een moet nog leer wat om met sy tong in sy mond te doen.

Een kan vir kort rukkies op sy eie speel, in ’n kamma wêreld waar hy die held is, en die ander een voel net in die arms tuis.

Een van die dinge wat hulle wel nou al kan saam doen, is pampoen eet. Ouboet het nou wel al begin onderskei tussen groente en vleis en die pampoen moet weggesteek word tussen rys en soms ’n bietjie tamatiesous. Kleinboet wonder nog watter vreemde voorwerp in sy mond is, maar as hy eers die pampoen raak het, dan kou sy gumme asof hy tande het en die spoeg loop asof ek ’n Gordon Ramsey dis vir hom voorgesit het. En as ouboet weet ons probeer hom nou flous, dan kry Kleinboet sommer ’n ekstra hap.

Hul slapenstye is hul eie en saam is hulle vir niks langer as 15 minute deur die dag aan die slaap nie. Daarom dat ek hierdie storie ná middernag skryf, omdat ek reeds my deadline gemis het.

Maar tweeling of nie, die twee seuntjies het elkeen hul manier om vir hierdie mamma te sê hulle het my lief. Een kan sy arms om my nek gooi en uitbundig gil, “mamma, mamma, mamma,” terwyl die ander se glimlag ’n hart kan breek as hy in sy eie taal vir my koer.

En in daardie oomblikke is niks anders meer van belang nie. Dan tik ek maar as dit donker en stil in die huis is. En ek los maar die speserye vir ’n rukkie langer op die vloer. Môre is nog ’n dag.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer