Baba-oppasser agter tralies
'n Ma se grootste nagmerrie het waar geword nadat sy op video vasgevang het hoe 'n 'betroubare' kinderoppasser haar baba glo mishandel.
Elvira Hattingh
'n Ma se grootste nagmerrie het waar geword nadat sy op video vasgevang het hoe 'n “betroubare” kinderoppasser haar baba glo mishandel.
Die nege maande oue Laila Theron van Outjo het geen gebreekte bene of kopbeserings opgedoen nadat sy skynbaar deur haar oppasser mishandel is nie, maar haar ma sê die sielkundige letsels moet nog genees. “Sy is bang vir die kampkot en skrik nog in die nag wakker. Vanoggend het sy seker geweet dit is weer 'n weeksdag – want sy wou my nie laat gaan nie.”
Me. Annemarie Theron, Laila se ma, het gister aan Republikein gesê die oppasser, me. Nicolin Hoëses, is nou agter tralies nadat 'n saak van poging tot moord teen haar aanhangig gemaak is.
Sy het gister vir die eerste keer voor die hof verskyn.
Theron het baie goeie ondersteuning van beide die polisie en die afdeling vir maatskaplike welsyn op Outjo ontvang.
Dit volg nadat 'n video die afgelope Vrydag groot opslae op Facebook gemaak het, waarin dit voorkom of Hoëses die baba eers met die hals van haar klere wurg, haar hardhandig uit die lug uit in haar kampkot gooi en daarna 'n kombers oor haar gesig druk.
HOOG AANGEPRYS
Theron het verlede week glo die skokkende ontdekking gemaak dat haar baba deur Hoëses mishandel word, nadat sy 'n program op haar rekenaar afgelaai het wat 'n video kan neem.
Sy het dit gedoen nadat sy vermoed het iets is nie pluis nie.
“Hoëses kyk al sedert Mei na ons baba en ek het haar aangestel nadat haar vorige werkgewers haar hoog aangeprys het.
“Ek glo diep in my hart die mishandeling het nie van die begin af gebeur nie. My baba was aanvanklik baie rustig en tevrede by haar.
“Ek dink Hoëses het persoonlike probleme ervaar wat aanleiding hiertoe gegee het.
“Sy was beslis nie haarself nie,” het Annemarie gesê.
Theron sê dit werk duurder uit om 'n oppasser te kry wat by die huis na jou baba kyk, maar sy het dit gedoen sodat Laila persoonlike aandag kon kry.
“Hoëses se eerste prioriteit was om na ons baba te kyk en as daar nog tyd was, na die res van die huis om te sien.”
VREEMDE BESERINGS
Theron sê sy het laat in Julie die eerste keer merke onder op haar baba se voetjies gesien. “Dit was vreemd – iets wat sy nie self daar sou kon kry nie.
“Ek het haar nie dokter toe gevat nie. Ek is nie iemand wat spoke opjaag of sommer wilde aantygings maak nie, maar in die laaste week van Augustus het ek een dag by die huis gekom en bloedmerkies onder die vel agter Laila se nek en op haar skouertjie gesien. Ek was bekommerd dat dit dalk 'n mediese toestand was.
“Dis waar ek in my hart ongelukkig en ongemaklik begin voel het.”
Theron vertel haar man, Johan, was vir twee dae aan die begin van September by die huis en het vir haar gesê die baba vrees Hoëses.
“Die volgende week het ek in die middag by die huis gekom en ons baba het 'n groot knop op haar voorkop gehad. Haar ogies was geswel van baie huil.
“Hoëses het gesê sy het met haar loopring omgeval. My man het gesê dit is onmoontlik dat so iets kon gebeur en ek het besef iets is nie pluis nie.”
Theron sê sy wou kameras in die huis installeer, maar dit is duur en vriende het haar toe gehelp om 'n program op haar rekenaar af te laai wat video-opnames kan maak van wat in die huis gebeur. Dis toe dat sy ontdek hoe Hoëses oënskynlik hul baba hanteer.
“Ek het verlede Woensdag die vreeslikste goed op die video gesien.
“Ek wou haar daarna nooit weer sien nie en haar onmiddellik afdank, maar ek het nie geweet hoe om volgens wet op te tree nie en het regshulp ingewin.”
POGING TOT MOORD
Theron is aangeraai om 'n saaknommer by die polisie en maatskaplike welsyn te kry om Hoëses wettiglik af te dank.
Die prokureur kon ook vasstel dat, hoewel Theron vir Hoëses sonder haar medewete afgeneem het, die gereg haar ondersteun indien sy glo haar kind se lewe was in gevaar.
“Ek wou aanvanklik nie 'n saak by maatskaplike welsyn maak nie, maar nadat die beampte die video gesien het, het hulle daarop aangedring dat ek dit wel doen.
“Die polisie het aanvanklik ook nie in my saak belang gestel nie, totdat ek die video vir hulle gewys het. Daarna het ek groot hulp en ondersteuning van hulle ontvang en hulle wou Hoëses dadelik in hegtenis neem.
“Ek is baie beïndruk met al die beamptes hier op Outjo.”
Hoëses is verlede Vrydag in hegtenis geneem.
“Sy het daarna vir my laat weet sy wil met my praat. Ek het soontoe gegaan en sy het gevra dat ek haar moet vergewe en gesê dit het slegs daardie dag gebeur.
“Ek het vir haar gesê ek is jammer, maar as dit by my kind kom, kan ek dit nie net laat gaan nie.
“As dit net een dag gebeur het, hoekom het my kind haar dan gevrees en waar het die vorige merke vandaan gekom?”
Theron is ook in kennis gestel dat die aanklaer-generaal die klag tot poging tot moord verswaar het, waar die klag aanvanklik kindermishandeling en aanranding was.
'ALLE OPPASSERS NIE SLEG'
“Laila is nou skooltjie toe en ek gaan probeer om in die namiddae by haar te wees, want sy het my nou nodig.
“Ek glo nie nou dat alle oppassers sleg is nie. Daar is baie goeie mense en oppassers daar buite en hulle het ook die werk nodig.
“Ek sou ook nie sê ma's moenie hul kinders tuis by oppassers los nie. Ek dink net ma's moet baie fyn op hul kinders let – luister na jul kinders en wees bewus van wat met hulle gebeur. Tree op as enigiets vreemd lyk.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie