Avon SA groei, maar bloei elders in wu00eareld
Avon SA groei, maar bloei elders in wu00eareld

Avon SA groei, maar bloei elders in wêreld

Avon Suid-Afrika was verlede jaar die beste presteerder in die internasionale groep.
Direkteverkope-maatskappye (soos Avon, Tupperware en Herbalife) word al hoe ryker, maar die verkopers sélf maak gemid­deld minder geld.

Dit is omdat dié maatskappye veral groei in gebiede waar mense 'n kleiner besteebare inkomste het, sê Ernest du Toit, voorsitter van die Vereniging van Direkte Verkopers van Suid-Afrika (DSA).

“Meer bestellings word dus geplaas, maar van kleiner bedrae,” sê hy.

In Suid-Afrika is daar 34 sulke maatskappye, wat Avon, Herbalife, Amway, Annique, Avroy Shlain en Tupperware insluit.

Volgens die jongste syfers van die DSA het 472 494 mense in 2016 sulke produkte verkoop teenoor 350 066 in 2015. Dit is 'n toename van 122 428 mense, oftewel groei van byna 35%.

Dit sluit die mense uit wat die produkte net vir hulself en aan hul familie verkoop en dus nie 'n wins daaruit maak nie.

Die totale inkomste van verkoopsagente het met R536 miljoen of 12% gegroei van R4 420 miljoen in 2015 tot R4 956 miljoen in 2016.

Die totale inkomste van direkteverkopemaatskappye in Suid-Afrika het met amper 13% gegroei van R14 miljard in 2015 tot R15,8 miljard in 2016.

Volgens Du Toit werk sowat 80% van die direkte verkopers in Suid-Afrika in laerinkomste-gebiede.



Teenvoeter vir ­werkloosheid

Avon, Suid-Afrika se grootste direkteverkopemaatskappy, skryf die groeiende getal verkopers onder meer toe aan die stygende werkloosheidsyfer.

Katlego Modipane, 'n woordvoerder van Avon, sê verkoopsverteenwoordigers met ervaring van 16 maande of meer maak genoeg geld om 'n tipiese huishouding se uitgawes aan kos, niealkoholiese drankies, klere en skoene en gesondheidsorg te bekostig.

Terwyl Avon internasionaal so swak vaar dat die uitvoerende hoof, Sheri McCoy, verlede week haar uittrede aangekondig het, groei Avon in Suid-Afrika al die afgelope vyf jaar.

Volgens Reuters het die maatskappy se verkope van US$11 miljard in 2011 gekrimp tot minder as US$6 miljard verlede jaar. Dit word toegeskryf aan die veranderende smaak en gewoontes van verbruikers en daar is kommer dat die direkteverkopemodel oudmodies is.

Daarteenoor het Avon in Suid-Afrika verlede jaar die groep se prys gewen vir die beste presteerder ter wêreld.

Modipane sê die syfers word nie bekend gemaak nie, maar die mark­aandeel van die maatskappy en die getal verkoopsverteenwoordigers in Suid-Afrika het die afgelope vyf jaar gegroei.



Persoonlike ontmoetings

Ontleders in die VSA het Avon se rampspoed onder meer daaraan toegeskryf dat hy nie vinnig genoeg by 'n digitale era aangepas het nie.

Modipane sê egter dat hoewel direkte verkope in Suid-Afrika nog meestal deur persoonlike ontmoetings plaasvind, bly Avon “mededingend” wat aanlyn verkope betref.

Klante kan byvoorbeeld per SMS of deur 'n app hul bestellings plaas.

Volgens die syfers van DSA het 74% van verkope in 2016 deur persoonlike ontmoetings plaasgevind teenoor 80% in 2015.

Altesame 13% van produkte is op groepspartytjies verkoop teenoor 12% in 2015.

Hul aanlyn verkope het van 7% in 2015 tot 12% in 2016 gegroei.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer