Australië vra Folau om verskoning

Rugby
Rugby Australië (RA) is gister die waarskynlike verleentheid van ’n duur, uitgerekte hofgeding gespaar nadat hy ’n vertroulike skikkingsooreenkoms met die afgedankte Wallaby Israel Folau bereik het.

ABCSport berig RA het ná onderhandelinge van 14 uur aan Folau en sy familie om verskoning gevra.

“Hoewel dit nie RA se voorneme was nie, erken en vra die liggaam om verskoning vir enige pyn of skade wat hy die Folaus veroorsaak het.

“Dienooreenkomstig het mnr. Folau nie voorgeneem om die sport van rugby skade te berokken nie en erken en vra hy om verskoning vir enige pyn of skade wat hy veroorsaak het,” sê die twee partye in ’n gesamentlike verklaring.

Volgens ’n bron in die speler se binnekring is Folau en sy span verheug met die uitkoms.

Folau het aangevoer hy is weens sy geloofsoortuigings in Mei vanjaar onwettig afgedank. RA het volgehou Folau het die beroepspelers se gedragskode oortree met sy uitlatings op sosiale media dat gays en ander sondaars “vir die hel bestem is”, asook sy beskrywing van Australië se wetgewing oor aborsie en selfdegeslaghuwelike as “boos”.

Hy het op die vooraand van die mediasieverrigtinge sy eis om skadevergoeding teen RA en die Waratahs van A$10 miljoen tot A$14 miljoen (R140,6 miljoen) vergroot en sy begeerte vir ’n verskoning van RA en die reg om sy internasionale loopbaan voort te sit, herhaal.

Roger Davis, die Waratahs se voorsitter, sê dit is ’n “bevredigende resolusie vir ’n ingewikkelde kwessie”.

Die Waratahs en RA het albei versekering op beperkte aanspreeklikheid, maar dit is nog nie duidelik hoeveel deur die polisse gedek sal word nie.

Dit bring ’n einde aan die probleem van agtienmaande maande vir RA en die Waratahs waar Folau gekontrakteer was. Albei partye het onder toenemende druk van borge geswig om stappe teen Folau te doen.

Die 30-jarige heelagter het 62 toetse vir die Wallabies gespeel en Australië ook op internasionale vlak in rugbyliga verteenwoordig.

Hy is drie keer met die John Eales-medalje as die land se voorste rugbyspeler vereer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-01-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer