Aussies wu00e9u00e9r van knoeiery beskuldig
Aussies wu00e9u00e9r van knoeiery beskuldig

Aussies wéér van knoeiery beskuldig

Krieket
Nuwe bewerings van wedstrydknoeiery waarby huidige en voormalige Australiese krieketspelers betrokke was, gaan deur die nuusdiens Al Jazeera in ’n tweede dokumentêre program openbaar gemaak word.

Krieket Australië (KA) het bevestig dat hy bewus is van die bewerings, wat verband hou met wedstryde wat Australië in 2011 gespeel het.

Die Aussies het daardie jaar aan die reeks om die As en aan die Wêreldbeker-toernooi deelgeneem. Daar was ook toere na Bangladesj, Sri Lanka en Suid-Afrika en tuiswedstryde teen Nieu-Seeland asook Indië.

James Sutherland, uitvoerende hoof van KA, sê daar is met ’n ondersoek na die beweringe begin.

Dit het op dieselfde dag gekom dat die Internasionale Krieketraad (IKR) die publiek genader het om hulp om die identiteit van die persoon bekend te maak, wat in die oorspronklike dokumentêre program as ’n wedstrydknoeier uitgewys is. In daardie program was hy as ene Aneel Munawar bekend.

Volgens die IKR bevat die opvolgprogram opnames van gesprekke tussen Munawar en beroepswedders om knoeiery te reël. Sutherland sê ook KA is bewus van die nuwe dokumentêre program oor korrupsie in krieket.

“Sedert die beeldsend van die eerste program het die IKR se teenkorrupsie-eenheid ’n deeglike ondersoek na die bewerings gemaak, maar dit (die ondersoek) is benadeel deur Al Jazeera se gebrek aan samewerking.

“Hoewel ons nie die geleentheid gehad het om na klankopnames te luister nie, is ons posisie steeds dat aantygings van korrupsie en knoeiery ondersoek moet word.

“KA se integriteitseenheid het met ’n ondersoek begin en met die beperkte inligting tot ons beskikking, kon ons geen bewyse vind dat huidige of voormalige Australiese spelers by knoeiery betrokke was nie,” sê Sutherland.

Alex Marshall, hoof van die IKR se teenkorrupsie-eenheid, sê alle pogings om Munawar se ware identiteit te ontbloot, was tot dusver onsuksesvol.

“Ons het al die ander mense in die oorspronklike dokumentêre program geïdentifiseer, en het met ’n aantal van hulle gesprekke oor die bewerings gehad.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer