Aupindi se appu00e8l van die hand gewys
Aupindi se appu00e8l van die hand gewys

Aupindi se appèl van die hand gewys

’n Voormalige Namibia Wildlife Resorts-bestuurder se poging het misluk om ontslae te raak van die landdros wat sy verhoor hanteer het.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw –Die hooggeregshof het op 14 Julie beslis die hoërhof was korrek om ’n aansoek van die hand te wys van mnr. Tobie Aupindi en sy medebeskuldigde, mnr. Antonio Di Savino, vir die landdros in hul saak se onttrekking.

Waarnemende appèlregter Theo Frank het in sy uitspraak gesê landdros Helvi Shilemba was reg toe sy geweier het om haarself van die verhoor te verskoon en ook dat die hoërhof korrek was toe dit Aupindi en Di Savino se aansoek van die hand gewys het om Shilemba se uitspraak ter syde te stel en hulself te laat vryspreek. Appélregters Sylvester Mainga en Elton Hoff het met Frank se uitspraak saamgestem.

Aupindi, ’n voormalige bestuurder van Namibia Wildlife Resorts (NWR), en Di Savino se verhoor in verband met klagte van korrupsie het in Februarie 2012 voor landdros Shilemba begin.

Dié twee het tereg gestaan op klagte dat hulle valse inligting aan ’n amptenaar van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) verskaf het - alternatiewelik dwarsboming van die gereg.

Die staat beweer Aupindi en Di Savino het in Maart en April 2010 vir ’n ondersoekbeampte van die Teenkorrupsiekommissie gelieg deur aan hom te vertel dat Aupindi in 2006 self N$50 000 vir die installering van ’n nuwe swembad by sy huis in Windhoek betaal het, terwyl Di Savino glo vir die swembad betaal het.

Di Savino het na bewering besigheid met NWR gedoen toe Aupindi nog nie in beheer daarvan was nie.

Met die sluiting van die staat se saak teen Aupindi en Di Savino het hul prokureurs ’n aansoek vir landdros Shilemba se onttrekking gebring.

Verklarings waarin beweer is daar was ’n sameswering tussen staatsaanklaer Arrie Husselmann en die landdros om Aupindi skuldig te bevind en tronk toe te stuur, is deur die verdediging voorgelê.

Waarnemende appèlregter Frank het in sy uitspraak gesê dié verklarings, wat die beweerde onbehoorlike gedrag van Shilemba bevat, is op ontoelaatbare hoorsê-getuienis gebaseer. Hy het verder die mening uitgespreek dat Aupindi en Di Savino nie ’n saak uitgemaak het dat die landdros bevooroordeeld was of dat daar ’n redelike vrees bestaan het dat sy bevooroordeeld sou wees nie.

Die appèl is dus van die hand gewys. Aupindi is verder beveel om die regskoste van die landdros, Husselmann, die aanklaer-generaal, die ACC én die prokureur-generaal in die appèl betaal.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer