Augustus steeds kouer as normaal
Augustus steeds kouer as normaal

Augustus steeds kouer as normaal

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Min tot geen reën word vir die res van die winter en komende lente vir Namibië verwag, terwyl dit tans kouer as normaal is.

Terselfdertyd het die kans op die vorming van La Niña-toestande met 'n verdere 20% gegroei.

Só sê mnr. Johan van den Berg, 'n konsultant-landbouweerkundige in sy jongste klimaatsvooruitskouingsverslag wat gister uitgestuur is.

Temperature in Namibië sal na verwagting voorts steeds ondernormaal wees, tot minstens in die tweede deel van Augustus.

“Dié voorspelling is veral van toepassing op ons minimum temperature, met ryp wat ook nog tot die einde van Augustus kan voorkom,” het Van den Berg gesê. Volgens hom het uiterse kouetoestande 'n piek in die laaste tien dae van Julie bereik en is dit steeds nie heeltemal verby nie.



REËN

Vooruitsigte vir somerreën vanaf November blyk egter belowend.

“Goeie nuus is dat die moontlikheid vir La Niña-toestande om te ontwikkel, versterk het.

“Daar is nou 'n 60% tot 70% moontlikheid dat 'n La Niña vanaf September of Oktober vanjaar gaan ontwikkel. Dit is positiewe nuus vir somerreën.

“Gunstige temperature in die Indiese Oseaan, in kombinasie met La Niña-toestande, vergroot die kans op goeie somerreën en kan selfs help dat die seisoen vroeër begin,” het Van den Berg geskryf.

“Die feit dat die moontlikheid op 'n La Niña van sowat 50% tot 70% vergroot het, is beduidend, veral vir hierdie tyd van die jaar,” het hy bygevoeg.

“Die verwagte intensiteit van die ontwikkelende La Niña is nog onseker, maar dit sal waarskynlik 'n matige een wees.”

Reëntoestande vir die buurland se winterreëngebied behoort goed te bly tot minstens die einde van Augustus, maar droër toestande mag dalk vanaf die tweede deel van September begin posvat, het hy verduidelik.

Dit blyk dat die koue ook sy greep oor Namibië effe begin verslap, met Aranos, Buitepos en Gobabis wat vandag (Dinsdag) die koudste sal wees met 'n minimum temperatuur van 3 °C en 'n maksimum van 25 °C vir elk.

Mariental en Noordoewer sal die warmste wees met 'n minimum temperatuur van onderskeidelik 10 °C vir elk en 'n maksimum van 29 °C elk.

Volgens die Namibiese weerkantoor wissel minimum temperature vandag vir die res van die land tussen 4 °C en 14 °C, terwyl die maksimum temperature tussen 18 °C en 29 °C sal wees.

Intussen het die weerkantoor ook gesê afkoeling van die hittegolftoestande aan die kus en in die Namib word vanaf vandag verwag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer