Auf Wiedersehen vir eers, koue

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Terwyl Namibiërs sê hulle het gisteroggend (Donderdag) temperature van so laag as -8 °C gemeet, behoort dié koue vir eers te wyk.

Mnr. Odillo Kgobetsi, hoofweervoorspeller by die Namibiese weerkantoor, sê oor die algemeen word warmer weer voortaan oor die Namibiese binneland verwag, terwyl baie warm toestande in die Weste en op kusdorpe sal ontwikkel.

Dit volg nadat koue toestande die afgelope week oor Namibië gevestig het, met temperature van so laag as -6 °C wat gisteroggend op die plaas Venus in die Grootfontein-vallei gemeet is.

Grootfontein Boerevereniging Namibia het ’n foto van mnr. Ian Malan op hul Facebook-blad gedeel waar hy wys hoe ys op hul landerye lê.

Op die Facebook-groep Reën in Namibia het mnr. Kai-Uwe Tietz gesê tussen Tsumeb en Oshivelo het hy gisteroggend 5 °C gemeet, terwyl ’n “ysige ooswind” gewaai het. Me. Heide Baas het gesê sy het -6 °C op ’n plaas 30 km noord van Omitara gemeet, terwyl haar buurman sê by hom het die kwik tot op -8 °C gedaal.

Me. Esther Rousseau sê net buite Gobabis het sy -6 °C gemeet, terwyl me. Betsie Labuschagne sê op ’n plaas naby Aranos was dit gisteroggend -8 °C.

Me. Barbara Blättler het geskryf die kwik het gisteroggend tot by -0,8 °C in Suiderhof, Windhoek gedaal – die laagste minimum temperatuur wat sy tot dusver dié winter teëgekom het. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer