Ats, Covid-19!
Ats, Covid-19!

Ats, Covid-19!

Leandrea Louw
Om sommer met die deur in die huis te val, hierdie pandemie het allerhande onaangenaamhede uitgelig.

Ons is sosiale wesens en floreer deur menslike interaksie. Dié pandemie het ons lewenswyse op elke moontlike manier verander. Dit het ons vir weke net tot ons huise beperk.

Terselfdertyd het ek in my hele lewe nog nooit soveel fopnuus en same­sweringsteorieë gehoor nie.

Sommige van die dinge wat ek gehoor het, is werklik belaglik, maar tog word dit op WhatsApp aangestuur. Sommiges gaan selfs sover as om hul eie “speserye” by die verhaal te voeg.

As jy nie leer uit die onderwyseres van Walvisbaai wat rassistiese opmerkings op Facebook gemaak het, of die dame uit Karibib nie, weet ek eerlikwaar nie wat anders sal jou wakker laat skrik nie.

Jy kan eenvoudig nie net alles wat jy voel op sosialemediaplatforms plaas nie.

Ja, ek weet Facebook vra jou

“what's on your mind”, maar chill. Ons leef in 'n demokratiese land waar ons vryheid van spraak het, maar daar is beperkinge op daardie vryheid.

Jy kan nie net 'n stemboodskap stuur wat sê alle hospitaalpersoneel het positief vir Covid-19 getoets, of dreig om die president te skiet en te verwag dit sal geen nagevolge hê nie.

Daar is al soveel vrees en angs rondom ons met hierdie virus, hoekom wil jy nog byvoeg?

As joernaliste het ons die verantwoordelikheid om die nasie op hoogte te hou en terselfdertyd ons geestesgesteldheid te behou. Wil jy nou rêrig fopnuus versprei en almal angstig maak? Dit is nie reg of regverdig nie!

Dit is 'n uiters frustrerende tyd, vir sommige meer as ander. Besighede moet sluit, werkers word afgelê en sonder inkomste gelaat om hul maandelikse uitgawes te dek.

Die woede en teleurstelling is geweldig, veral in die Erongostreek, en ek verstaan. Ek is hier om te help op enige manier wat ek kan, met die middele wat ek het.

Neem net 'n oomblik om na te dink oor jou optrede – jy het hierdie stemboodskap wat sê dat almal weens Covid-19 gaan sterf, jy stuur dit na jou familie se WhatsApp-groepie toe, die volgende persoon stuur dit na hul WhatsApp-groep en so gaan dit voort. Nou kry iemand met angs die boodskap en hul gedagtes begin oortyd werk. Ek sê dit weer; nie regverdig of reg nie!

Die lewe is nie regverdig nie en dit was nog nooit, maar jy het die verantwoordelikheid en die geleentheid om die vertelling te verander.

Om geweld met geweld te beveg, lei altyd dat onskuldige mense seerkry.

En om af te sluit, het ek nog nooit kleur gesien nie. Ek het grootgeword in post-onafhanklikheid (vir die kritici daar buite is ek tien teen een 'n born free wat van niks weet), maar rassisme maak my verskriklik kwaad. Niemand moet anders behandel word weens hul ras, velkleur, godsdiens of seksualiteit nie. Dit is nie ons plek om iemand te oordeel nie. God het ons duidelike opdragte gegee om ons bure lief te hê soos ons onsself lief het. As jy dus niks goeds van iemand anders kan sê nie, is jy waarskynlik nie lief vir jouself nie.

Kommentaar

Republikein 2026-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer