Atlete gestrand voor Jeugspele
Jeugspele
Gebrek aan behoorlike organisasie en kommunikasie het die openingsdag van die eerste Nasionale Jeugspele gister in Windhoek oorskadu.
Vier streekspanne – Kavango-Oos, Kavango-Wes, Ohangwena en Kunene – het gesukkel met vervoer na Windhoek, ten spyte van Namibië se sportkommissie se hoofadministrateur, Freddy Mwiya, wat gesê het twee busse is na elke streek buite Khomas gestuur om atlete na Windhoek vir die driedaagse geleentheid te bring.
Mwiya het vooraf aan Nampa gesê hulle is 120% gereed vir die spele.
Die werklikheid was egter gistermiddag anders, aangesien talle atlete nog nie aangekom het nie en diegene wat wel hul reise voltooi het, gestrand gelaat is, terwyl ander ure by die akkreditasiekantoor moes wag.
Kavango-Oos se sportbeampte Someno Erastus het aan die nuusagentskap Nampa gesê daar was nie genoeg busse nie.
“Dit het lank geneem vir die mense in Windhoek (die Sportkommissie) om ons aansoek vir die staatsbusse te laat goedkeur. Toe dit goedgekeur is, was al die busse reeds uitgegee aan diegene wat vroeër bespreek het vir die departement van onderwys se sportspele wat ook dié week gebeur,” het hy gesê.
Sommige van sy atlete het in Windhoek aangekom nadat die Kavango-Oos-goewerneur, mnr. Samuel Mbambo, geld van die streekraad gebruik het om drie 23-sitplekbussies en 'n bakkie te huur.
Mwiya het gesê die kommissie het aan alle sportbeamptes in die streek gesê om rekwisisies van die Staatsgarage te kry, maar die gebrek aan kommunikasie het daartoe gelei dat hulle nie vervoer het nie.
Teen Woensdagaand was die Sportkommissie steeds besig om aandag aan die vervoerprobleem te gee, maar Mwiya het gesê hy was hoopvol dat alle streke betyds vir die kompetisie sou opdaag.
Intussen is Kunene-atlete wat in die vroeë oggendure aangekom het, by die Nasionale Jeugkompleks in Katutura gestrand gelaat en het nie genoeg kos gehad om te eet nie.
Mwiya het aan Nampa gesê 'n gebrek aan kommunikasie tussen organiseerders en Kunene se sportbeampte Esna //Haradoes het tot gevolg gehad dat net 19 van Kunene se 98 atlete dit tot in Windhoek gemaak het. Hulle het per minibus en in twee bakkies aangekom, omdat geen bus na hul streek gestuur was nie.
By die Spele sal atlete meeding in sokker, netbal, basketbal, vlugbal, tennis, judo, atletiek, swem en boks.
Die spele word gebruik om 'n nasionale o.20-span te kies wat die land in Desember by die Streek 5-spele in Gaborone sal verteenwoordig. - Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie