• Tuisblad
  • Sake
  • Aston Martin se aandeelprys val ná notering
Aston Martin se aandeelprys val nu00e1 notering
Aston Martin se aandeelprys val nu00e1 notering

Aston Martin se aandeelprys val ná notering

Aston Martin se aandeelprys het getuimel op die groep se debuut in Londen.

Die maatskappy het 27,2% van sy aandele genoteer nadat dit in ’n aanvanklike openbare aanbod teen gemiddeld £19 elk verkoop is. Dit bring die maatskappy se markwaarde op £4,3 miljard te staan.

Net nadat die aandele op die Londense Aandelebeurs begin verhandel het, het dit met tot 6,6% geval.

Hoewel Aston Martin se markwaarde sowat 15% minder is as die aanvanklike maksimum teiken van £22,50 per aandeel, is dit steeds 20,7 keer die maatskappy se wins in die eerste helfte van sy boekjaar.

Die Britse motorvervaardiger wil die wêreld van motorwedrenne aandurf met sy Vanquish-, Vantage- en DB-modelle. Hy wil ook die Lagonda-naam laat herleef en daarmee teen onder meer Rolls-Royce en Bentley in die mark vir ultraluukse motors meeding.

Andy Palmer, uitvoerende hoof, sê in ’n verklaring hy is verheug oor die positiewe reaksie van institusionele beleggers op die aanvanklike openbare aanbod, wat hy as ’n mylpaal vir die maatskappy beskryf. Hy het belowe om die groeiplanne van die groep te laat werk.

Aston Martin is beroemd gemaak omdat dit sedert 1969 in James Bond-flieks gebruik is.

Dis die eerste notering van ’n Britse motormaatskappy in 34 jaar. Jaguar Land Rover het in 1984 genoteer. – Bloomberg/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer