• Tuisblad
  • Sake
  • Aspen soek dringend medisyne vir kopseer met skuld
Aspen soek dringend medisyne vir kopseer met skuld
Aspen soek dringend medisyne vir kopseer met skuld

Aspen soek dringend medisyne vir kopseer met skuld

Nellie Brand-Jonker – Die medisynevervaardiger Aspen se skuld het met ’n reuse-R6,7 miljard tot R53 miljard in die halfjaar tot einde Desember verhoog terwyl sy wins skerp gedaal het.

Volgens Stephen Saad, uitvoerende hoof, is die groot rede vir die hoër skuldlas verkrygings van R4,9 miljard en sy kapitale besteding van R1,5 miljard.

Die maatskappy het boonop nog nie die finale goedkeuring gekry vir die verkoop van sy babakos-bedrywighede Lactalis nie. Die handelsmerke sluit in S-26, Alula en Infacare.

Die groep se inkomste het in die halfjaar met 1% tot R19,6 miljard gestyg, maar sy bedryfswins het met 6% tot R4,4 miljard gedaal.

Sy wins vir die halfjaar het skerp met 19% tot R2,9 miljard geval.

Die resultate is baie laat Donderdagaand ná die sluiting van die mark uitgereik.

“Die vermindering van die skuld is ’n prioriteit,” het Saad gesê.

Volgens hom is die eerste stap in die proses die verkoop van sy babakos-onderneming.

Sy finansieringskoste het skerp van R833 miljoen in die vorige halfjaar tot R1,2 miljard gespring.

Die maatskappy hoop ook die verkoop van ander bates oorsee sal help om sy skuld tot die vlak af te bring wat in die kontrakte met skuldeisers gespesifiseer is.

Volgens Saad kyk hulle na nog maniere om die groep se skuld vinniger te verlaag.

Hy het gesê Aspen het begin om die strategie met sy bedrywighede te hersien in Europa en Suid-Afrika.

Die eerste gevolg daarvan is om Suid-Afrika se kommersiële farmaseutiese bedrywighede in twee te verdeel. Saad sê dit is om die fokus op elkeen te verbeter.

Hy verwag dat die genormaliseerde wesensverdienste vir die volle boekjaar ook gaan daal.

Sy genormaliseerde wesensverdienste het met 14% gedaal.

Die groep het boonop nog twee ander groot kopsere – ’n ondersoek deur die Europese Kommissie en ’n ondersoek deur Brittanje se mededingingsowerheid oor oormatige prysverhogings op sekere belangrike medisyne en behandeling vir kanker oorsee.

Die bedrywighede wat hy wil verkoop, is sowat R6,5 miljard werd, waarvan die grootste deel die ontasbare bates se waarde is wat handelsmerke behels.

Sy inkomste uit kommersiële farmaseutiese produkte in Suid-Afrika en die res van Afrika beloop R4 miljard.

Aspen verdien R274 miljoen uit die vervaardiging van medisyne in Suid-Afrika.

Van Aspen se totale bates van R134,8 miljard beloop die ontasbare bates R70,2 miljard.

Hy het in die boekjaar meer as R200 miljoen se ontasbare bates afgeskryf. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer