Asemnood by staat
Asemnood by staat

Asemnood by staat

Die Katutura-hospitaal se respiratoriese eenheid het lae druk vir die suksesvolle lewering van suurstof ervaar.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Pasiënte met respiratoriese pro­bleme moes Maandag in die isolasie-eenheid van die Windhoek Sentrale Hospitaal gehuisves word, nadat die Katutura-staatshospitaal se respiratoriese eenheid nie meer pasiënte kon akkommodeer nie.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het die respiratoriese eenheid ook lae druk vir die doeltreffende lewering van suurstof ervaar. Shangula sê die maatskappy wat die suurstof geïnstalleer het, is besig om die fout te herstel. Hy het egter beklemtoon daar is steeds beddens vir nuwe pasiënte in die isolasie-eenheid beskikbaar.

“Die isolasie-eenheid by die Windhoek Sentrale Hospitaal het ten spyte van die toename in die aantal mense wat hospitalisasie vereis, steeds beddens vir nuwe pasiënte be­skikbaar,” het hy in 'n onderhoud met Republikein gesê.

Hy het gereageer op 'n boodskap in die sosiale media wat die ronde doen waarin beweer word pasiënte moes in algemene sale vir suurstof opgeneem word omdat die isolasie-eenheid vol was. In die boodskap word ook beweer sommige pasiënte moes weens 'n tekort aan beddens in 'n algemene saal suurstof ontvang, terwyl ander op draagbare van ambulanse suurstof ontvang het.

Volgens Shangula is daar egter verwarring tussen die isolasie-eenheid en Saal 3E.

“Pasiënte in Saal 1E is oorgeplaas na Saal 3E, omdat eersgenoemde op­geknap word om as die pediatriese intensiewesorgeenheid te dien. ­Pasiënte wat oorgeplaas is, was normale pasiënte en nie Covid-19-­pasiënte nie,” het Shangula gesê.

Shangula het erken die aantal Covid-19-pasiënte is besig om daadwerklik te styg met 28 van die 1 765 aktiewe gevalle wat baie ernstig of kritiek is. Dit sluit 20 baie ernstige gevalle en ses kritieke gevalle in Khomas in. In Erongo is twee kritieke gevalle.

Met verwysing na gesondheidswerkers wat toenemend positief vir Covid-19 toets en waarvan nog 22 gister aangemeld is, sê Shangula ondersoek word ingestel oor of hulle by hul onderskeie werksplekke of in hul gemeenskappe deur ander gemeen­skapslede geïnfekteer is.

Die ondersoek sal volgens die minister deel van die maatreëls vorm om gesondheidswerkers te beskerm. Teen gister het 716 gesondheidswerkers weer positief getoets.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se situasieverslag vir Sondag, het 680 teen 13 Desember positief getoets. Hiervan was 458 in die staat werksaam. Uit die 680 het 530 reeds herstel, terwyl Covid-19 die lewens van drie gesondheidswerkers geëis het.

Gister was Windhoek se 131 gevalle 70% van die totale 187 gevalle. Onder die gevalle in die hoofstad was 11 leerlinge van verskillende skole en ses studente. Nog 22 gesondheidswerkers het positief getoets, 11 in Windhoek, vyf op Karasburg, vier op Oshakati en twee op Lüderitz.

Die Covid-19-verwante sterftes het tot 164 gestyg, ná die dood van 'n 59-jarige man van die Walvisbaai-distrik.

Nog 144 mense het herstel en wel 131 in Khomas, 11 in Kunene en twee in Omusati. Tot op hede is 178 677 weefselmonsters getoets, 3 830 kontakte word gemonitor en 845 mense is in kwarantyn. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer